DBV red honde wat deur eienaars agtergelaat is

Deel hierdie storie / Share this story

DBV-inspekteurs in die Kaap het onlangs tot die redding gekom van honde wat verlate in Thornton gelaat is terwyl hul eienaars glo met vakansie was.

Op 31 Desember 2022 het die DBV ‘n klag van ‘n besorgde lid van die publiek ontvang oor twee honde wat na bewering deur hul eienaar verlaat is.

Die klaer het gesê sy eienaar was al twee weke weg en dat niemand na die hond omsien nie.

“Ons span het ‘n ondersoek gedoen op dieselfde dag dat die saak by ons aangemeld is. Met ons aankoms by die eiendom was niemand tuis nie. Oor die muur kon die inspekteurs ‘n groot hoeveelheid ou ontlasting sien, en die gras was toegegroei. Daar was alle tekens van die honde wat óf agtergelaat is óf nie opgepas is nie,” het die organisasie in ‘n verklaring gesê.

’n Waarskuwing is uitgereik en aan die hek vasgeplak vir die eienaars om die DBV binne 24 uur te kontak sodat vasgestel kon word of die honde agtergelaat is.

Voordat die span vertrek het, het hulle vir die honde kos en water gegee. Die volgende dag het inspekteurs na die eiendom teruggekeer.

“Met aankoms het ons inspekteurs niemand by die huis gekry nie en ons waarskuwing was steeds aan die hek vas. Aangesien dit ’n openbare vakansiedag was, kon ons inspekteurs nie ’n hofbevel kry nie, en ’n verdere waarskuwing is uitgereik en aan die hek geheg vir die eienaar om die DBV binne 24 uur te kontak.” Kos en water is weer aan die honde verskaf.

Toe die eienaars nie gereageer het op die waarskuwings nie, wat steeds op die hek was, het inspekteurs aansoek gedoen om ‘n hofbevel van die Goodwood-landdroshof om die eiendom binne te gaan en op die honde beslag te lê.

“Met die hofbevel in die hand, het ons inspekteurs met die hulp van die Pinelands-polisie na die eiendom teruggekeer. Toe ons inspekteurs die eiendom binnegaan, het hulle ou ontlasting gevind wat oral gestrooi was, en die gras was toegegroei. Dit was duidelik dat die eienaars vir ‘n geruime tyd nie tuis was nie. Albei honde is deur ons Inspekteurs verwyder en is na ons Dieresorgsentrum in Grassy Park geneem vir veeartsenykundige ondersoek en verdere sorg,” het die DBV gesê.

Hulle het bygevoeg dat kriminele klagte teen die eienaar aanhangig gemaak sal word ingevolge die Dierebeskermingswet 71 van 1962 vir die agterlating van hul troeteldiere.

Bronne: Cape Times, VN Explorer

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Vrees vir selfdood onder aanlyn UCT-hoërskoolleerlinge oor uitslae