Allen Saayman sterk tuis aan en Trevor Whittle is steeds in die hospitaal nadat hulle op Vrydag 30 Desember 2022 tydens ‘n trokbestuursles op die Addo-pad rigting Motherwell, ongeveer 5 km voor Uitenhage, deur verdagtes geskiet is.
‘n Uitasem Allen het met FiND iT gepraat en gesê sy steke kom amper uit, maar hy voel hy forseer homself te hard om te herstel en moet dalk bietjie rus nadat hy skietwonde aan sy regterbeen, arm en boud opgedoen het en nie veel gevoel op die betrokke plekke het nie.
Allen sê die trok waarmee hulle in die skietinsident was, staan by Trevor se seun en dit is duidelik dat daar geskiet was om hulle raak te skiet, aangesien die trok oortrek is van die koeëlgate.
“Ek voel nie lekker nie en het nog pyn waar die skietwonde is,” het Allen gesê.
Hy sukkel in hierdie stadium met die trauma verbonde aan die skietvoorval en ondervind slaapprobleme. Hy sê hy kan nie die geluide van die pistoolskote wat afgevuur word en die bakwerk tref, uit sy kop kry nie.
Trevor (74) is twee keer in die maag getref, maar kon eers die volgende dag geopereer word, aangesien sy toestand onstabiel was.
Allice, Allen se ma en Trevor se meisie, sê boonop is Trevor ‘n diabeet. Hy word gesedeer en is aan ‘n ventilator gekoppel.
Allice sê as daar na die koeëlgate in die bakwerk van die trok gekyk word, was die twee baie gelukkig. Indien hulle nie tydens die aanval afgebuk het nie, was Trevor in die bors en Allen waarskynlik in die kop geskiet.
Gistermiddag na 16:00 het die goeie nuus van Renate Whittle gekom dat Trevor wakker is, sy oë is oop en hy reageer op gesprekke. Daar word beoog om hom vandag van die ventilator af te haal.
Allice sê die polisie het die twee mans se verklarings afgeneem, maar daar was nog geen nuus van die ondersoek met hulle gedeel nie.
https://find-it.co.za/2023/01/02/nagmerrie-ondervinding-toe-slagoffers-in-trok-geskiet-word/
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



