Vrou se verminkte liggaam op toiletsitplek gevind

Deel hierdie storie / Share this story

Avhurengwi Rambuda (35) van Makula Village, Thohoyandou, Polokwane, in Limpopo se lewelose liggaam is op 3 Januarie 2023 om ongeveer 21:00 in ‘n ongebruikte puttoilet gevind.

Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die oorledene is laas op 30 Desember 2022 by haar huis gesien.

Haar liggaam is deur ‘n familielid gevind waar dit toegedraai was in ‘n kombers en op die sitplek van die puttoilet geplaas is.

Sy was oortrek met kapmerke en haar een gewrig is vermis, wat vermoedelik met ‘n skerp voorwerp afgekap is.

Die polisie is op soek na Azwimpheleli Mashau en versoek dat hy hom by die naaste polisiestasie sal aanmeld om te help met die moordondersoek.

Die polisie in Thohoyandou het hul soektog na die verdagte van die grusame moord verskerp.

Lt.genl. Thembi Haddebe, die provinsiale kommissaris, het gevra dat die gemeenskap met inligting na vore moet kom sodat die verdagte gearresteer kan word.

Enigiemand met inligting kan met die ondersoekbeampte sers. Rambuluwani Nekhavhambe by 071 5111213 in kontak kom.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.