Lande beperk reis vanaf China

Deel hierdie storie / Share this story

Ondanks die styging van Covid-19 infeksies in China, berei dié land voor om sy grense te open en reisinperkings op 8 Januarie te lig. China word daarvan beskuldig dat dit nie eerlik is oor sy huidige situasie nie.

Sekere lande het reeds reisbeperkings teen Chinese reisigers ingestel, terwyl Suid-Afrika steeds die situasie dophou.

Italië het op 28 Desember 2022, beperkings aangekondig waarvolgens alle reisigers wat per vliegtuig die land binnekom aan verpligte Covid-19-toetsing onderwerp sal word.

Volgens Time is meer as ‘n derde van die passasiers op een van die eerste vlugte positief vir Covid-19 getoets en op ‘n ander vlug die helfte van die passasiers.

Die VSA het op 28 Desember beperkings vanaf 3 Januarie aangekondig vir reisigers uit China, Hong Kong en Macau. ‘n Negatiewe Covid-19 toets wat nie ouer as twee dae voor vertrek gedoen is nie, moet verskaf word.

Frankryk vereis vanaf 5 Januarie ‘n negatiewe Covid-19 toets wat nie langer as 48 uur voor vertrek geneem is nie. Passasiers sal ook verplig wees om tydens vlugte maskers te dra en kan met aankoms aan toetsing onderwerp word.

Die Verenigde Koningkryk vereis vanaf 5 Januarie ‘n negatiewe Covid-19-toets wat nie ouer as twee dae vanaf vertrek geneem is nie. Passasiers kan ook met aankoms getoets word.

Spanje vereis vanaf 3 Januarie dat besoekers van China ‘n negatiewe Covid-1- toets sal verskaf, of ‘n bewys dat die besoeker gevaksineer is. Madrid het verder gegaan deur te sê enige vaksinasie wat deur die WGO aanvaar word, sal aanvaarbaar wees.

Australië vereis vanaf 5 Januarie ‘n negatiewe Covid-19-toets vir besoekers vanaf China, Hong Kong en Macau, wat nie ouer as 48 uur voor vertrek geneem is nie.

Kanada vereis vanaf 5 Januarie ‘n negatiewe Covid-19-toets vir passasiers ouer as twee jaar vanaf China, Hong Kong en Macau, wat nie ouer as twee dae vanaf vertrek geneem is nie, of bewys dat die persoon onlangs Covid-19 gehad het. Die maatreëls sal egter gemonitor word en binne 30 dae weer geassesseer word. Maskers op vlugte word aanbeveel, maar sal nie ‘n vereiste wees nie.

Japan het sedert 30 Desember 2022 reeds nuwe reisbeperkings in plek wat behels dat reisigers vanaf China, Hong Kong en Macau vir Covid-19 getoets sal word met aankoms. Indien daar positiewe toetse is, sal persone vir sewe dae in kwarantyn geplaas word.

Suid-Korea vereis van 5 Januarie af dat reisigers vanaf China ‘n verpligte Covid-19-toets voor en na aankoms in die land sal ondergaan. Suid-Korea sal ook ‘n beperking instel op die uitreiking van korttermyn visas vir Chinese burgers tot die einde van die maand en ‘n tydelike opskorting van vlugte tussen die naburige lande instel.

Indië vereis sedert 1 Januarie dat besoekers van China, Hong Kong, Japan, Suid-Korea, Singapoer en Thailand ‘n negatiewe Covid-19-toets, geneem nie meer as 72 uur voor vertrek nie, moet verskaf. 2% van internasionale reisigers sal ook met aankoms in die land getoets word.

Maleisië het op 30 Desember aangekondig dat alle passasiers van China en ander lande getoets sal word vir koors en indien koors teenwoordig is, sal so ‘n persoon aan ‘n Covid-19-toets onderwerp word. Afvalwater van vliegtuie wat vanaf China reis, sal getoets word om te kyk vir spore van nuwe variante.

Israel het op 30 Desember aangekondig dat reisigers van China ‘n negatiewe Covid-19-toets binne 48 uur van vertrek moet verskaf, ongeag vaksinasie-status.

Morokko het aangekondig dat enige reisigers van China, ongeag nasionaliteit, gekeer sal word om die land binne te gaan. Hierdie is ook die strengste beperking wat ingestel is.

Taiwan vereis dat reisigers van China ‘n Covid-19-toets met aankoms sal ondergaan. Indien positief, sal vyf dae kwarantyn ingestel word.

Bron: Time en Bloomberg

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.