Drie verdagtes is in hegtenis geneem op aanklagtes van ontvoering, afpersing en moord ná die ontdekking van die liggaam van ‘n 48-jarige Chinese sakeman in Khayelitsha op die Dag van Welwillendheid.
Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, sê voorlopige ondersoeke dui daarop dat twee broers, onderskeidelik 52 en 48 jaar oud, op 22 Desember in Mowbray deur onbekende aanvallers ontvoer is.
Pojie sê die verdagtes het later die familie gekontak en kontant geëis vir die broers se veilige terugbesorging.
“Die familie is opdrag gegee om nie met die owerhede te praat nie, aangesien dit hul geliefdes sou benadeel het. Die polisie het egter onmiddellik ‘n multi-dissiplinêre span geaktiveer om die verdwyning van die broers te ondersoek. Dit het vrugte afgewerp toe hulle die drietal in hegtenis geneem en vir ondervraging ingeneem het,” het hy gesê.
Pojie sê die liggaam van die 48-jarige is op 26 Desember ontdek en sy 52-jarige broer is op 28 Desember in ‘n ernstige toestand langs Swartklipweg in Khayelitsha gevind.
Die verdagtes, onderskeidelik 30, 32 en 37 jaar oud, sal na verwagting in die Khayelitsha-landdroshof verskyn op aanklagte wat verband hou met moord, poging tot moord, ontvoering en afpersing.
Bronne: Cape Times, SABC News, VN Explorer
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



