Zeldine Pretorius (17) ‘n perdritgids, is in die hospitaal en haar perd Kerneels dood nadat hulle op 23 Desember op ‘n onwettige, lewendige kragkonneksie getrap het.
Wat ‘n rit op ‘n nuwe roete naby die Rosslynpad rigting Brits moes wees, het in ‘n nagmerrie ontaard vir Zeldine wat die hoofgids by die Bon Accord-stalle op die Soutpanpad in die noorde van Pretoria is.
Zeldine se ma het aan Rekord gesê sy het ‘n skielike elektriese skok gevoel, waarna Kerneels met haar inmekaargesak het. Hy het bo-op haar geval terwyl hulle beide steeds op die kraglyne gelê het.
Sy het daarin geslaag om onder hom uit te kom en het probeer om haar perd te red, maar is weer geskok.
Polisie en nooddienste is ontbied, waarna Zeldine na ‘n hospitaal geneem is.
Daar is deur polisie bevestig dat die betrokke kragkabels ‘n onwettige konneksie was. ‘n Saak is nie oopgemaak nie, maar die kabels is na vier uur weggevat toe die krag afgeskakel is en Kerneels ook verwyder kon word.
Zeldine sterk tans tuis aan en sukkel met fisiese sowel as emosionele pyn weens die verlies van haar geliefde perd.
Kerneels was sedert hy ses jaar gelede gered is onafskeidbaar van Zeldine en het haar gemotiveer om beter te doen op skool, ‘n beter selfbeeld te hê en net oor die algemeen beter in die lewe te doen.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



