Opvolg: 10 dood, 30 kritiek, talle beseer – Boksburg ‘tanker’-ontploffing

Deel hierdie storie / Share this story

Minstens 10 mense is dood en ongeveer 30 het lewensbedreigende beserings opgedoen terwyl nog talle beseer is in ‘n voorval waarin ‘n L.P-gastenkwa vanoggend in Railwaystraat in Plantation, Boksburg aan die Oos-Rand van Gauteng ontplof het.

Emer-G-Med sê die finale getalle van beseerdes en hul mediese toestand sal deur die Stad Ekurhuleni vrygestel word.

Buiten die 10 mense wat dood is en 30 met kritieke beserings is talle ander beseerdes behandel vir beserings wat van gering tot matig wissel. Dit is nog nie duidelik wie die oorledenes is nie.

Sommige beseerdes is vir mediese hulp van die toneel gevlieg.

Infrastruktuur in die area het aansienlike skade opgedoen. Die Tambo-gedenkhospitaal, wat naby aan die toneel was, se noodgevalle-eenheid se dak is beskadig en het meegegee. Die hospitaal moes weens die skade pasiënte ontruim en sluit totdat daar ‘n inspeksie deur ingenieurs plaasvind, waarna ‘n verklaring deur die departement uitgereik sal word. Omstanders en personeel van die hospitaal is beseer.

Ses brandbestryders het beserings opgedoen en ‘n brandweerwa sowel as twee voertuie is in die ontploffing vernietig.

Emer-G-Med het dank betuig aan al die owerhede wat sy aan sy gewerk het en brandweerpersoneel wat die brand onder beheer gebring het.

William Ntladi, woordvoerder vir Ekurhuleni-nooddienste, sê die tenkswa het onder die brug in Hospitaalstraat vasgesit, waarna dit aan die brand geraak en ontplof het.

Volgens Ntladi het die brand vinnig uitgebrei na naburige areas wat twee huise in vlamme gehad het. Die brand is nou onder beheer.

FiND iT spreek medelye uit teenoor al die families en vriende van die oorledenes en wens die beseerdes beterskap toe.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.