Ten minste twee persone is doodgeskiet in ‘n busrooftog op die N1 naby Kranskop in Limpopo.
Na bewering het vermeende gewapende rowers op passasiers in ‘n Copperbel-oorgrensbus wat onderweg na Zimbabwe was, toegesak.
Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, het bevestig dat die bus onderweg was na Harare toe drie vermeende rowers op die bus geklim het.
Die bus het verby Mantsole-weegbrug beweeg toe die een verdagte glo deur die voorruit van die bus geskiet het en die bestuurder gedwing het om stil te hou.
Een van die ander verdagtes het glo drie vrouens geskiet, van wie twee dood en een kritiek beseer is.
Die ander passasiers is beveel om op die grond te lê en is van besittings wat kontant, selfone en paspoorte ingesluit het, beroof.
Hierna is die vermeende verdagtes deur ‘n voertuig wat glo die bus gevolg het, opgelaai.
Lt.genl Thembi Hadebe, die provinsiale kommissaris van polisie in Limpopo, sê die vermeende verdagtes sal gejag word.
Polisie in BEla-Bela (Warmbad) ondersoek twee moorde en ‘n poging tot moord.
Enigiemand met inligting rondom die voorval kan kapt. Dana Smith kontak by 081 577 4383.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



