‘n Brand het Woensdag 21 Desember om ongeveer 01:00 by Unisa se Muckleneuk-kampus uitgebreek.
Volgens die Tshwane Emergency Services Department was die brand op die tweede vloer van die Winnie Madikizela Mandela-gebou.
Nog voordat brandbestryders die gebou bereik het, kon hulle al die digte rook wat by die gebou uitkom, sien.
Toegang moes deur drie houtdeure en twee staalroldeure forseer word om toegang tot die perseel te verkry om die brand te bestry.
Sekuriteitsbeamptes wat op die perseel was, het later meer deure met hul toegangskaarte oopgemaak.
Brandbestryders het hope boeke en lêers op verskeie plekke op die tweede vloer gevind wat gesmeul het en het dit geblus.
Die vloer het uitgebreide rook- en-waterskade en ‘n gedeelte van die derde vloer het ook rookskade opgedoen.
‘n Lugleer is gebruik om vensters oop te maak en meganiese ventilasie is uitgevoer om van die oortollige rook ontslae te raak.
Volgens bronne op die toneel het daar glo twee weke gelede ook ‘n brand in dieselfde gebou uitgebreek wat deur personeel geblus is, maar nooit aan nooddienste gerapporteer is nie.
Die oorsaak van die brand en die skadeberaming is nog nie vasgestel nie.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



