Tweejarige deur seekoei aangeval, uit hospitaal ontslaan

Deel hierdie storie / Share this story

Die tweejarige Ugandese seuntjie, Iga Paul, is uit die hospitaal ontslaan en terug by die huis nadat ’n seekoei hom vroeër vandeesmaand aangeval het.

Volgens ‘n berig deur die BBC het die dier vir Iga beetgekry waar hy naby sy ouerhuis, sowat 2 km van die Edward-meer in die Kasese-distrik gespeel het. Die seekoei het die kind halflyf in sy bek gehad, maar hom weer uitgespoeg nadat ’n dapper omstander hom met klippe bestook het.

Volgens Enanga Fred, woordvoerder van die Uganda-polisiemag, is dit die eerste keer dat só ’n insident voorkom waar ’n seekoei van die meer verdwaal en ’n jong kind aanval. Hy het Chrispas Bagonza, wat die seekoei met klippe gegooi het, vir sy heldhaftige daad om die seuntjie uit die seekoei se kake te red, geloof.

Iga is vir behandeling na ‘n nabygeleë kliniek geneem waar hy vir beserings aan sy hand behandel is, en is later na die Bwera-hospitaal vir verdere behandeling oorgeplaas.

“Hy het ten volle herstel en is ontslaan nadat hy ‘n entstof teen hondsdolheid ontvang het.”

Owerhede waarsku dat hoewel die seekoei terug in die meer is, moet alle inwoners naby dierereservate en habitatte weet dat wilde diere gevaarlik is.

“Wilde diere sien instinktief mense as ‘n bedreiging en enige interaksie kan veroorsaak dat hulle vreemd of aggressief optree.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.