Die gewilde Afrikaanse sangeres, Karlien van Jaarsveld, is vandag 37 jaar oud.
Karlien is die oudste van drie kinders.

Sy het in 2005 saam met Bobby van Jaarsveld, haar broer, begin optree as sy kitaarspeler en agtergrondsangeres. Sy het ook ‘n duet saam met Bobby op sy eerste album gesing.
Karlien het egter in 2006 besluit om haar eie koers in te slaan en het toe ‘n rockgroep, Revolusie, gestig.
Sy was die stigter en hoofsangeres van dié groep. Rockmusiek was altyd in haar bloed en sy het die twee jaar saam met Revolusie as ‘n uitstekende leerskool beskou. Karlien het egter in Oktober 2008 besluit om ‘n sololoopbaan te volg en het Revolusie verlaat.
Johan Vorster Songs het Karlien as kunstenaar ingeneem, waarna Karlien se album Jakkals Trou Met Wolf Se Vrou uitgereik is. Die album se verkope het platinumstatus bereik.
Karlien het verskyn in die Afrikaanse fliek Platteland saam met Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Jay en Lianie May.
Karlien was voorheen getroud met die voormalige Springbok en Blou Bul Derick Hougaard. Sy het einde 2013 die lewe aan tweelingseuns geskenk.
Die liedjie Daniël en Eliah op haar album, My Hartjie, is aan hulle opgedra. Sy is weer getroud met Joe Breytenbach, ‘n voormalige rugbyspeler.
Hul eersteling, ‘n dogter genaamd Elah, is op 7 Oktober 2017 gebore. Op 1 April 2020 is hul seuntjie, Johannes Samuel, gebore.



