‘n Saak van roekelose bestuur word ondersoek teen ‘n motorbestuurder, wat oor ‘n rooi verkeerslig gery en ‘n botsing veroorsaak het waarin ‘n jong motorfietsryer, Cornel Greeff (26), ernstig beseer is, berig Vaalweekblad.
Cornel, ‘n werknemer van Vereeniging Tyre en Tube, was die aand van 4 November omstreeks 22:50 op pad na sy woonstel toe die voorval plaasgevind het. Op videomateriaal wat deur Sekuriteit Sonder Grense se gemonteerde sekuriteitskameras geneem is, kan gesien word hoe Cornel die kruising tussen Rhodes- en Uniestraat binnegaan terwyl die verkeerslig groen was vir hom. Die volgende oomblik kom ‘n rooi voertuig skielik die kruising van Cornel se linkerkant af binne en ry voor hom in. In die volgende sekonde kan gesien word hoe hy bo-oor die voertuig geslinger word en in ‘n bondeltjie anderkant die kar bly lê.
Cornel, wat nie ‘n mediese fonds het nie, moes byna ‘n maand in die Sebokeng-hospitaal vir ‘n operasie wag om verskeie breuke in sy been met penne en plate te heg.
Cornel se ma, Annelie Hilarius, het ‘n Back-a-buddy-fonds oopgemaak in die hoop dat hy na ‘n privaat hospitaal oorgeplaas kon word.
Die operasie is egter uiteindelik op 1 Desember, vier weke na die ongeluk, by Sebokeng-hospitaal uitgevoer en Cornel kon op 5 Desember ontslaan word. Cornel het tans “backslab”-gips van bo tot onder aan die beseerde been en moet oor twee weke teruggaan hospitaal toe om vas te stel of die eksterne wonde voldoende herstel het, waarna hy volle gips aan sy been sal kry.
Wanneer die bene mettertyd aangegroei het en die gips verwyder kan word, sal hy na verwagting vir ‘n geruime tyd ‘n kniestut moet dra om weer te kan loop.
‘n Ondersoek van sy motorfietshelm het agterna getoon dat hy op sy kop geval het toe hy die grond getref het en baie gelukkig was om nie veel erger beseer te wees nie.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



