Boer wat met kragkabel skok huis toe na meer as maand in hospitaal

Deel hierdie storie / Share this story

Roux Steenkamp (30), die boer wat op 3 November met ‘n Eskom-aansluitingskragkabel geskok het, is na 43 dae in die hospitaal ontslaan.

Ongeveer 22 000 volts het deur sy liggaam gegaan. Sy ongeluk word as ‘n fratsongeluk beskryf.

“Stort gou, die dokter is hier en dan gaan jy huis toe,” was die verpleegster se woorde vanoggend aan Roux.

Roux vertel hy, sy vrou, Enja en sy ma is nog in die Strand tot Maandag net om seker te maak alles is reg voor hulle teruggaan huis toe.

Volgens Roux herstel die uitgangspunt brandwond waar twee veloorplantings gedoen is oor die pelvis/lae abdominale gebied, sowel as van lies tot lies, baie goed.

“Dis so bietjie groter as ‘n A4-papier gebied wat nou gesond word.”

Die laaste 43 dae was rof vir Roux en sy naastes.

“In die laaste tyd was daar ten minste 10 wonderwerke, agt operasies, 27 uur plus onder narkose, vyf dae in ‘n koma en Jesus was by my die hele tyd.

“Dis net deur Hom dat ek nog lewe.”

Roux vertel sy plastiese chirurg, dr. Kleintjes, het elke keer voor operasies vir hom gebid en erkenning gegee dat die Here sy lewe gered het.

Enja is tans swanger met die egpaar se eersteling.


“Dankie vir een en elk se ondersteuning, gebed, boodskap, sjokolades, babaklere, finansiële bydraes en Netflix-rekening. Ek en Enja, my gesin en familie waardeer dit ontsettend baie. Jul elkeen het bygedra dat ek nog lewe vandag.”

Fotokrediet: Burre Burger