‘n Polisiesersant verbonde aan die Mutale-polisestasie het Sondagoggend om ongeveer 01:30 ‘n vermeende huisrower by sy huis in Lukau Tshishive-woongebied, Limpopo, in sy spore gestuit.
Kol. Malesela Ledwaba sê na bewering is die sersant en sy vrou deur drie onbekende verdagtes, waarvan een gewapen was, in hul kamer oorval.
Die verdagtes het glo geld en selfone geëis terwyl hulle die vertrek geplunder het en klere, skoene, handsakke en ‘n beursie met bankkaarte gebuit het.
Die sersant se vrou is glo na bosse buite toe geneem. Sy het later teruggekeer en ondersoek word gedoen na wat met haar gebeur het.
Haar man is in sy skouer geskiet, maar het daarin geslaag om tot by sy dienspistool te kruip. Hy het ‘n skoot afgevuur na die verdagte wat nog in die kamer was, waarop die verdagte gevlug het.
‘n Zimbabwiese burger met ‘n skietwond is deur die polisie in nabygeleë bosse met gesteelde goedere uit die sersant se huis gevind. Hy is in hegtenis geneem en sal binnekort in die Mutale-landdroshof verskyn op klagtes van poging tot moord en huisroof.
Daar word steeds na die ander twee verdagtes gesoek.
Lt.genl. Thembi Hadebe het lof uitgespreek teenoor die sersant wie se reaksie tot arrestasie gelei het.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



