Video’s: Pre-primêre skool en-dargsorgsentrum sluit weens beweerde mishandeling van kleuters

Deel hierdie storie / Share this story

Video’s is nie vir sensitiewe lesers nie!

Little Royals pre-primêre skool in Cultura Park, Bronkhorstspruit, is voorlopig gesluit nadat Elsa Geyser, die eienaarhoof op 14 November in hegtenis geneem is vir die beweerde aanranding van kleuters in haar sorg.

Sake van aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer is teen haar oopgemaak nadat video’s van voorvalle deur ‘n betroubare bron aan ouers gestuur en op sosiale media versprei is. Sy is in hegtenis geneem en het op 16 November in die Bronkhorstspruit-landdroshof verskyn.

In een van die video’s wat vanuit ‘n gebou geneem is, kan gesien word hoe ‘n kleuter by ‘n klimraam twee keer met ‘n houtplank geslaan word omdat speelgoed glo uit ‘n klaskamer geneem is.

‘n Ander seun wou glo badkamer toe gaan en het besluit om buitentoe te gaan en is ook met die plank geslaan.

In nog ‘n video kan gesien word hoe ‘n meisie aaneen met ‘n potlood oor die vingers geslaan word omdat sy glo met ‘n verkeerde kleur potlood ingekleur het en sy is gedreig dat sy die volgende keer met ‘n liniaal in stede van ‘n potlood oor die vingers geslaan sal word. ‘n Outistiese seun was blykbaar ook gereeld in die moeilikheid.

Die bron van die video’s het bevestig dat nog voorvalle plaasgevind het sedert sy by die skool begin werk het, maar dat sy dit net nie meer kon hanteer nie. Sy het ook ‘n verslag aan maatskaplike werkers gestuur. Die bron is afgedank nadat die video’s aan die lig gekom het en is bekommerd dat sy nie weer in diens geneem sal word nie.

Nadat die ouers die video’s ontvang het, het hulle die eienaar by die polisie gerapporteer en die sake word tans deur die polisie se GKS-eenheid in Ekangala ondersoek.

Dina Bosch, van CMR in Bronkhorstspruit, het vervolgens kontak gemaak met die betrokke ouers en vorms van mishandeling is voltooi en aan die Departement vir Sosiale Ontwikkeling gestuur.

Die insident met een van die seuntjies (18 mnde.) het op 31 Oktober plaasgevind. Die ouer, wat getraumatiseer is omdat sy nie haar seun kon beskerm nie, het haar seun dadelik gaan haal na sy die video ontvang het.

Nadat Geyser ‘n dag na sy in die hof verskyn het op borg vrygelaat is en aangegaan het met haar besigheid soos normaal, het die EFF ingetree en die situasie gemonitor sodat die beskuldigde nie weer in kontak met kinders kan wees nie.

Streeknuus het Geyser vir kommentaar genader. Sy het vir hulle gesê dat sy as een van haar borgvoorwaardes nie die voorval mag bespreek nie en gevra dat haar naam nie gepubliseer moet word nie. Streeknuus het regsadvies ingewin en besluit om haar naam in die openbare belang te plaas.

Die saak is tot 3 Januarie 2023 uitgestel. Meer klagtes kan bygevoeg word soos wat die ondersoek vorder.

Bron: Ridge Times Streeknuus Dorette Labutte en Arisja Misselhorn.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.