Terwyl die beskuldigde in die moordsaak van Jerobejin van Wyk (13) nog in aanhouding wag om psigiatries ontleed te word, het die nuwe eienaar van sy woning op Klawer, Dinsdag ‘n gru-ontdeking gemaak, wat owerhede dalk sal druk om dieper in Daniel Smit se verlede te krap.

Luidens ‘n polisieverklaring is oorskot vroeër die week gevind. Dit is intussen weggestuur vir DNA-ontleding om vas te stel of dit menslike of dierlike oorskot is.
Wendy Pekeur, lid van die Ubuntu Rural Women and Youth Movement, vertel die ontdekking van beendere deur die nuwe eienaar van Smit se huis het weer die lig geplaas op twee vrouens wat in 2019 vermis geraak het.
Pekeur sê in Januarie en Oktober van 2019 het twee vrouens op Klawer soos mis voor die son verdwyn en die gru-ontdekking het die families van Janine Bottom (28) en Jeneva Diergal (8) getraumatiseer, omdat die twee vermisdes nooit opgespoor is nie, of geen leidrade agtergelaat het oor wat moontlik met hulle kon gebeur het nie.
Pekeur sê Van Wyk se familie is self diep geraak deur die gru-ontdekking, omdat dit hulle terugneem na vroeër die jaar, toe Jerobejin van Wyk se liggaamsdele in Smit se drein ontdek is.
Pekeur is ook van mening dat, indien dit menslike beendere is,’n liggaam net op hierdie manier geskend word as daar orgaan- of mensehandel betrokke is.
“Die man is heel waarskynlik betrokke by ‘n hele sindikaat wat met organe handel.
“Dit gaan my verstand te bowe dat die polisie nie die dromme deursoek het met die vind van Jerobejin se liggaamsdele op sy erf nie.
“Toe die nuwe eienaar die dromme toegemessel gevind het, het die polisie nie agterdogtig geraak nie?” vra Pekeur.
Pekeur voeg by die nuwe eienaar, wat ‘n sakeman op Vredendal is, het die oliedromme op Klawer gaan haal en na Vredendal geneem. Die nuwe eienaar het onmiddellik die polisie ontbied.
Pekeur vertel die gru-ontdekking het ook soort van die families van Bottom en Diergal van die laaste hoop vir ‘n veilige terugkeer van die twee vermisdes gestroop.
“Ons hoop en vertrou dit is nie die twee vermisde vrouens nie, alhoewel dit ‘n moontlikheid kan wees.
“Dit kan ook moontlik ander mense s’n wees waarvan niemand weet nie.
“Ek glo ook hier is nog mense betrokke.
“Een van die beskuldigde se familielede is getroud met ‘n Chinees en die dag met sy arrestasie was sy huis vol Chinese mense.
“Ek wil nie stories opmaak nie, maar ja, dit is wat my gedagte vir my sê, ek glo hulle was betrokke by orgaanhandel.
“Die stories wat geloop het dat die beskuldigde betrokke was by ‘n satanistiese cult, glo ek is ‘n cover up vir iets baie groter.
“Dit is makliker om te erken jy doen offerings aan satan as om te erken jy handel in menslike organe,” vertel Pekeur en voeg by die Ubuntu Rural Women and Youth Movement sal volgende week Klawer toe gaan om die families van Van Wyk, Bottom en Diergaardt te besoek.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



