Bevestiging – dit ís pitbulls wat vrou in Oos-Kaap doodgebyt het

Deel hierdie storie / Share this story

Zimkhitha “Brenda” Gaga (37) was Sondag deur pitbull terriërs op Alfredpad, Port Alfred, Oos-Kaap aangeval en doodgebyt.

Daar is intussen bevestig dat die ma deur drie pitbulls doodgebyt is, waar daar vroeër slegs berig is dat sy deur honde aangeval is.

Die honde het in die straat geloop en Gaga net goedsmoeds aangeval terwyl sy werk toe gestap het. Sy het ‘n wrede dood langs die pad gesterf as gevolg van bytwonde aan haar gesig en bors. Gaga het gesterf voordat sy enige mediese hulp kon ontang.

Na bewering het die honde daarin geslaag om uit hul erf te kom deur die omheining te beskadig. Die drie honde is intussen opgespoor en deur die DBV ingeneem.

Kol. Priscilla Naidoo, polisiewoordvoerder, het die vrou se identiteit bevestig en gesê dat sy op pad was werk toe.

“Owerhede kon eers nie die honderas identifiseer nie, omdat die honde nie meer op die toneel was nie.”

Twee mans het die aanval aanskou en sekuriteit gekontak wat op hulle beurt die polisie laat kom het.

‘n Geregtelike doodsondersoek is geregistreer.

Dit was die tweede aanval van hierdie aard in ‘n week nadat ‘n baba van 15 mnde vroeër die week ook deur ‘n pitbull doodgebyt is.

Hierdie aanvalle saam met dié wat dit voorafgegaan het, het skokgolwe deur gemeenskappe gestuur en sommige mense probeer van hul eie honde ontslae raak deur hulle by DBV-takke landswyd in te dien.

Gemeenskappe het reeds van die honde wat in sulke gevalle betrokke was, self gestenig en verbrand.

Die Sizwe Kupelo-stigting, wat veg om hierdie ras as huishoudelike diere te verban kry, kry met elke aanval wat plaasvind meer en meer momentum.

Intussen neem protes onder pitbull-eienaars ook toe, wat voel dat die aanval op die honderas ongeregverdig is.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.