Seuns vas ná hul glo pa probeer vermoor

Deel hierdie storie / Share this story

Twee verdagtes van 25 en 27 jaar oud is in hegtenis geneem na hul glo hul 68-jarige pa wou vermoor.

Volgens ‘n verklaring deur die polisie word beweer dat die slagoffer Maandagaand 28 November 2022 omstreeks 22:30 in sy huis geslaap het, toe hy ‘n klop by sy slaapkamerdeur gehoor het.

Die seuns wou glo ‘n sleutel terugbring.

Die pa het sy kamervenster oopgemaak en nie die deur soos hulle gehoop het nie.

Dit is toe dat ‘n koeël die pa in sy bobeen getref het.

Hy het daarin geslaag om die polisie en die mediese personeel te ontbied, wat tot sy redding gekom het.

Die slagoffer is hospitaal toe geneem vir mediese behandeling.

‘n Saak van poging tot moord is geopen.

Die polisie op Bosbokrand het dadelik begin met hul ondersoek wat gelei het tot beide verdagtes (die slagoffer se seuns) se inhegtenisneming.

Hulle het Dinsdag 29 November 2022 in die Bosbokrand-landdroshof verskyn.

Die motief agter die aanval moet nog vasgestel word.

Die provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela het die dade van geweld onder lede van dieselfde families ten sterkste veroordeel.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel