‘n Vyfjarige seuntjie van Australië se oupa moes hom red na ‘n luislang van meer as 3 m lank hom in ‘n swembad ingesleep het.
Dit was sy familie se vinnige optrede wat die vyfjarige Beau Blake se lewe gered het.
Die seuntjie het naby sy gesin se swembad by hulle huis in Byron Bay geloop toe die slang “uit die bloute” uit die bosse verskyn en hom aan sy enkel gebyt het.
Die slang het hom vinnig om die seuntjie vasgedraai en hulle het in die swembad beland.
“Ek het net op die bank gaan sit toe dit gebeur het,” sê Ben Blake, die seuntjie se pa, aan NBN News.
Hy vertel sy seuntjie het naby die swembad geloop. “Ek glo die slang het soort van gesit en wag vir ‘n slagoffer om verby te kom, ‘n voël of iets, en toe was dit Beau.”
Die seuntjie se oupa, Alan Blake, het dadelik in die swembad gespring en die seuntjie en die slang uitgehaal.
“Ek het by die swembad ingekyk en net gesien daar is ‘n ding om sy been.”
Ben het die slang aan sy nek gegryp en dit in 20 sekondes van Beau se been afgehaal.
Die seuntjie is na ‘n hospitaal geneem waar dokters die wonde wat deur die luislang veroorsaak is, skoongemaak en behandel het.



