“Jy was die beste boetie ooit.” Dit is die woorde van die oorlede Willem Kruger se suster, Danelle Verwey, nadat die 10 dae soektog na Willem Dinsdag tragies geëindig het.
Willem, wat vanaf 12 November vermis was, se bakkie en oorskot is Dinsdag gekry sowat 100 meter van waar ‘n deskundige wat motorongelukke rekonstruktueer, Saterdag bevind het die bakkie in die water ingery.
Die hele land treur saam met die Kruger-familie.
Huldeblyke van regoor Suid-Afrika het die afgelope 24 uur ingestroom, selfs van mense wat Willem nie ken nie.
Huldeblyke
“Eendag ry ons weer in jou bakkie rond. Jy sal met trots vir ons wys hoe jou aartappels groei. Jou honde sal opgewonde agter op saam ry. Ons sal tot bo die koppie ry, en in verwondering kyk na die skoonheid en guns wat God vir jou in die ewige lewe gee.
Tot dan, liewe Willem, sal ons trane jou lande water gee. Ons herinneringe saam jou sal die gronde voed en elke liedjie wat jy vir ons geleer het sal ons tussen jou waatlemoene dans. Ons dank God vir die geleende tyd saam jou.
“Dankie Jesus, Willem is gevind en LEEF in die ewige lewe” verlos van die wêreld waarin hy diep spore getrap het.
Geniet die chats met Jesus tot ons daar is, dan kom vertel ons jou hoeveel mense jy na Hom toe gelei het. Ons het jou bitter lief ou Wil. 💔” skryf Mehan de Vries.

Die sanger, Appel, het gesê hy hou die Kruger-gesin in sy gebede en woorde is min.

“Vanaand gaan slaap meerderheid van ons met ‘n swaar hart 💔❤️🩹
Vandag het my net weereens laat besef dat ons slegs geleen is vir die wêreld.
So,
Gee jou familie en vriende ‘n ekstra stywe druk wanneer jy hulle weer sien, gaan doen daai een ding wat jy nog altyd wou doen, maar jy wag nog vir die regte tyd en probeer die lewe voluit aanpak, veral vir dié wat nie meer saam met ons hul drome kan uitleef nie.
RIV Willem 🕊️
Universiteit sou glad nie dieselfde sonder jou gewees het nie. Dankie,” skryf Eloise Watkins.
Elanie Watson, Willem sê niggie, skryf: “Jou ewige lewe het begin. Mag ons mekaar weer eendag in die hemel sien. Liefde. Altyd. ❤️❤️❤️”

Marezelle Cloete het die foto op Willem se Facebook-blad gedeel.

Bianca Terreblanch sê sy hoop Willem se storie sal mense se harte aanraak. “Rus in vrede. Geniet dit by ons Hemelse Pappa!!”
Naomi Verwey, Willem se swaer se suster, skryf:
“Willem Kruger,
Die oomblik toe nuus aan ons gebreek was, het daar liggies reën neergeval op die dak.
Die Here het toe jou spore waarna almal ‘n week lank soek finaal kom uitvee.
Dis vir ons moeilik om te verstaan en te glo maar ons verstaan nie altyd alles nie.
Ons sal nogsteeds nie ophou bid nie, vir jou ma jou pa jou sussies jou swaers maar ook die 4 kinders wat nooit weer hulle oom Willem gaan sien nie.
Ek sal mooi na jou sussies kyk want ek is so lief vir hulle en jou ma en pa ook. Willem dankie dat jy vir my boetie ‘n boetie was of eintlik nogsteeds is en jy sal tog altyd bly. Ons almal sal vir die kinders van jou vertel. Hulle sal jou nooit vergeet nie.
Willem jy los ‘n leemte. Maar jou siel leef voort.
Lekker boer daar bo Willem ek is seker die aartappels wat jy gaan plant is iets wat ons wens om te beleef.
Rus nou sag, en kyk saam Die Here na jou gesin wat jou reeds so baie verlang.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



