Eksklusief: Ma se waarskuwing nadat 9-jarige dogter gemolesteer is

Deel hierdie storie / Share this story
Fotokrediet Pauline Scholtz Facebook-blad

‘n Ma waarsku: “Pasop wie jy in jou huis en by jou kinders toelaat.”

*Prinses is ‘n skuilnaam.

Sy was maar nege. Pure kind, toe sy een aand vir haar ma sê sy wil met haar praat. Mamma, wat besig was, wou die gesels vir ‘n ander keer los, maar *Prinses wou dit dadelik doen.

En soos ‘n bak yswater wat in haar gesig geskiet word, vertel haar klein dogtertjie vir haar dat ‘n sogenaamde familievriend wat hulle vertrou het aan haar gevat het. En nee, dit was nie net een keer nie, vertel die ma.

‘n Woedende ma vol emosie vertel van hegte vriendskapsbande met die “wolf in skaapsklere” met wie daar oor en weer gekuier is.

“Ons het Johnny Scholtz vertrou. Ons het hulle al jare geken. Hy en sy vrou was soos ‘n pa en ma vir my.

“Dit was Vadersdag, Junie 2019, toe ons huis afbrand, met ek en my man wat vasgekeer was binne. Die kinders was gelukkig nie tuis nie en dit was die een keer wat ek ingestem het dat hul elders kon oorslaap. “Ons kon net betyds gered word deur ons bure en my man was in ‘n kritieke toestand en daar was vir sy lewe gevrees. Ons was beide in die hospitaal opgeneem en dan sou Johnny en sy vrou kom kuier en die pastoor saambring om vir ons te kom bid,” vertel sy afkeurend.

Hulle het van haar skoonma in Heidelberg na haar skoonsuster in Kriel getrek, omdat alles so oorweldigend was.

“Ons kon later, met hulp, ‘n huis huur en begin om die stukke van ons lewens op te tel.”

Of so het hierdie ouers gedink.

“Dit was nadat alles begin rustiger raak dat *Prinses besluit het om met my te praat.”

“Mamma oom Johnny het aan my gevat”

“Daar was geen teken om hom te wantrou nie,” sê die ma wat later tog begin twyfel het oor sekere tekens wat reg voor haar was.

*Prinses het ‘n pamflet by die skool gesien en het besluit sy moes met haar ma praat oor wat met haar gebeur het. Ma en dogter het die gesprek gehad wat menige ouer vrees.

“Die tye wat dit gebeur het, was onder ons neuse. Ons sou braai, dan sou hy in die sitkamer gaan sit, ek het dit maar aan sy ouderdom toegeskryf dat hy dalk moeg is. Dan sou hy my dogter roep en op sy skoot laat sit. Volgens haar was dit hierdie tye wanneer hy sy hand in haar broekie ingedruk het.

“Ek het my een aand vererg, want hy het aangehou dat sy by hom moes gaan sit. Ek het gesê my kind sit nie op ‘n man se skoot nie. Hy het vir my kwaad geword en gevra: ‘Dink jy ek sal iets aan haar doen?'”

Sy het voorts verduidelik dat haar kind nie eers op haar eie oupa se skoot sit nie.

Hierna het sy ernstig met haar dogter gesels en vir haar gesê sy moet haar roep as die man weer sou vra dat sy op sy skoot moes sit.

“Ek was in die kombuis besig om slaai te maak en die kinders het buite gespeel. Of so het ek gedink. Toe ek uitkom, was sy weer op sy skoot. Daardie dag het ek hom en sy vrou weggejaag.

“Dit het buite gebeur, in my sitkamer, by hulle huis ook. Dit het elke keer gebeur wanneer ek iets gaan doen het. Ek voel baie sleg en weet ek moes maar eerder my instinkte gevolg het, maar ek het gedink dat ek dalk paranoïes is,” sê die ma met selfverwyt.

Terwyl sy terugdink, het al die waarskuwingstekens in plek geval. Sy het gelukkig geweier dat die kinders ooit op herhaaldelike versoeke by sy huis gaan oorslaap.

“Met tye wou Prinses by haar ouma gaan kuier as sy hoor Johnny-hulle kom oor. Ek en my man het daaroor gepraat en het besluit dat ek vir haar moes vra wat fout is dat sy nie daar wil wees as hulle oorkom nie. Toe sy my die aand in Kriel vertel, was ek verby woede en het ek Johnny se vrou gebel en vir haar gesê om hom te sê dat ek weet wat hy aan my dogter gedoen het.”

Die volgende dag is hulle na die polisie om ‘n saak oop te maak, op ‘n ander dorp, in die area waarin die misdaad plaasgevind het.

So moes hulle toe verklarings op twee plekke aflê en is sy daarna deur sielkundiges van gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings (GKS) gesien. Na die laaste sessie is die ma ingelig dat Johnny inderdaad besig was om haar dogter te groom.

“Hy is gearresteer en is op die 21ste Mei vanjaar skuldig bevind en tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Maar wat ek gehoor het, is dat hy blykbaar onder een of ander klousule gevonnis is. ‘n Betroubare persoon by die tronk in Heidelberg waar hy sy vonnis uitdien, het vir my laat weet dat hy reeds op 16 Maart 2023 ontslaan gaan word. Nogal op my dogtertjie se verjaarsdag.”

En dan vertel sy van die nagmerrie wat in die hof plaasgevind het.

“*Prinses het in camera getuig en nie self gepraat nie, maar Johnny se prokureur het aangedring dat sy nie weet wie die beskuldigde is nie en dat sy hom fisies moes kom uitwys.”

“Die hof het dit sowaar toegelaat dat my klein dogtertjie reg voor haar jagter moes staan, hom in die gesig kyk en hom uitwys. Sy prokureur het ons selfs beskuldig dat ons die saak oopgemaak het as gevolg van ‘n persoonlike vendetta. Die dag wat hy skulig bevind is, was ons nie in die hof nie omdat ons na ‘n ander provinsie verhuis het om ons kind en onsself uit die slegte omstandighede te neem.

“Wat my egter dwars in die krop steek, is dat hy eersdaags ontslaan gaan word. Ek is bang vir ander dogtertjies met wie hy dalk alreeds in kontak was en wie nog sy pad gaan kruis wanneer hy vry buite rondloop.

“Vervolgens dink mense soos wat vertel word, dat Johnny vir ‘n ruk in ‘n ander provinsie werk. Die feit dat hy ‘n vonnis uitdien, word weggesteek.”

“Dit is tyd dat almal die waarheid ken.”

Uitspraak: “On 2022/05/20: Guilty as charged.”

Die vonnisoplegging lees soos volg: “On 2022/05/20 accused is sentenced to a periond of five (05) years imprisonment in terms of Section 276 (1)(i) of the Criminal Procedure Act 51 of 1977. In terms of Section 103(i) of the Firearms Control Act 60 of 2000, no order is made.”

Bron: Ma van gemolesteerde dogtertjie en Lumka Mahanjana NVG woordvoerder

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.