Die Nasionale See-en-Sand Instituut, ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie, is sedert 1971 daarop gefokus om vir jongmense buitemuurse onderrig en opleiding te bied.
Elisabet Miller vertel haar verloofde, Henk Esterhuizen, het die instituut 15 jaar gelede by sy pa oorgeneem. Sy vertel sy pa, die legendariese Sparks Esterhuizen, was ‘n onderwyser by Paul Roos en toe leerlinge hom vra om hulle ‘n bietjie van die see te leer, het hy met die organisasie begin.



Dié organisasie wat vir 40 jaar reeds duisende lewensredders op Hermanus opgelei het en net soveel lewens gered het, het ‘n Back-A-Buddy-veldtog geloods om sy mansbadkamer en kombuis te kan opknap ná padwerke skade aan die terrein gemaak het. Die organisasie se kampeerterrein is reeds 30 jaar oud.




“Vir drie jaar lank was daar intensiewe padwerke oorkant ons terrein terwyl die R43 oorgedoen was,” vertel Miller. “Ons glo dit het veroorsaak dat ons strukturele skade aan ons gebou gekry het.”
“Al 10 die wasbakke in die mansbadkamer het begin kraak en ín die sementstruktuur begin sink. Die sement-muurskeiding het ook begin kraak en leun gevaarlik oor na een kant. Ons sal ook graag die kombuisvloer, wat tans krake het, wil oordoen en ‘n nuwe plafon insit.”
In dié stadium dra die organisasie self al die herstelkostes en as ‘n nie-winsgewende besigheid is dit ‘n baie groot uitgawe. Daarom het hulle besluit om ‘n veldtog te loods om geld in te samel om die herstelwerk te doen.
Miller noem dat dit hulle ongeveer R25 000 gaan kos om die badkamers te herstel, en R20 000 vir die kombuis.
Dié organisasie vra ondersteuners om by te dra tot die nodige opgraderings. “Ons vra dus dat, indien ons al ooit ‘n impak op jou of iemand wie jy ken se lewe gemaak het, dat julle asseblief oorweeg om ‘n donasie te maak. Elke klein bietjie sal ons help om die kostes te dra!”
Gaan besoek hulle Facebook-blad of Instagram-profiel of webtuiste vir meer inligting.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



