Israel se mees gesoekte bendeleier met Interpol rooi kennisgewing in Bryanston aangekeer

Deel hierdie storie / Share this story

Die bendeleier (46) van die Abergil-organisasie is vanoggend saam met sewe ander verdagtes in Bryanston aangekeer. ‘n Rooi kennisgewing is sedert 2015 deur Interpol vir hom uitgereik. Hy word in Israel gesoek vir sameswering om moord en poging tot moord te pleeg.

Kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê volgens Israelse owerhede is die verdagte die leier van ‘n bende wat by dwelmhandel, mensehandel, afpersing en ander kriminele aktiwiteite betrokke is.

Gedurende 2003 en 2004 het hy by twee geleenthede bomme onder ‘n man se voertuig geplaas en gedetoneer. In die eerste voorval het vyf mense oorleef, maar ernstige beserings opgedoen. In die tweede detonasie is drie mense ernstig beseer.

Vanoggend het lede van Interpol SA, Georganiseerde Misdaad, speurders, Misdaad-intelligensie en die Spesiale Taakmag op die geïdentifiseerde huis toegeslaan.

Die gesoekte verdagte saam met nog sewe ander is by die adres gekry. Beslag is gelê op 12 vuurwapens wat vyf aanvalsgewere en sewe handwapens insluit. $40 000, sowel as drie motorfietse wat vermoedelik gesteel is, is ook gekonfiskeer.

Alle rolspelers is tans nog op die toneel waar die ondersoek en soek-lasbrief uitgevoer word.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.