Theuns du Toit permanent geskors na urine-voorval

Deel hierdie storie / Share this story

Theuns du Toit, wat aan die Universiteit Stellenbosch studeer het, is permanent uit die universiteit geskors. Hy is op beeld vasgevang toe hy op Babalo Ndwayana, ’n medestudent, se besittings geürineer het.

Die gewese Matie-student se appèlaansoek het nie geslaag nie. Du Toit het teen sy skuldigbevinding oor rassisme geappelleer.

“Die permanente skorsing van mnr. Theuns du Toit uit die Universiteit Stellenbosch (US) moet gehandhaaf word en hy mag nie na die universiteit terugkeer nie.

“Dít is die bevinding van ‘n onafhanklike dissiplinêre appèlkomitee (DAK) oor die appèl deur mnr. Du Toit. Die DAK, onder leiding van ‘n onafhanklike advokaat, het die feite in die saak in ‘n appèl oorweeg. Ná die evaluasie van die beskikbare bewyse, het die komitee bevind mnr. Du Toit se permanente skorsing is ‘n gepaste sanksie vir die oortreding, soos bevind deur die onafhanklike sentrale dissiplinêre komitee (SDK) van die US,” lui ’n verklaring deur die universiteit.

’n Verklaring deur die Universiteit Stellenbosch lui:

Menswaardigheid is ononderhandelbaar by die Universiteit Stellenbosch (US) en moet gerespekteer en gehandhaaf word. Wanneer hierdie waardigheid aangetas is, moet dit herstel word ingevolge regsvoorskrifte, die toepaslike wette en die volle omvang waarvolgens die Grondwet die regte van almal in ons land beskerm.

Die US se standpunt as ‘n goedbestuurde instelling is dat die gereg sy loop moet neem en dat regulasies altyd nagekom moet word om die belange en regte van die slagoffers én beweerde oortreders te beskerm. Dit verseker regverdige, verdedigbare en volhoubare uitkomste.

Die permanente skorsing van mnr. Theuns du Toit uit die Universiteit Stellenbosch (US) moet gehandhaaf word en hy mag nie na die universiteit terugkeer nie.

Dít is die bevinding van ‘n onafhanklike dissiplinêre appèlkomitee (DAK) oor die appèl deur mnr. Du Toit. Die DAK, onder leiding van ‘n onafhanklike advokaat, het die feite in die saak in ‘n appèl oorweeg. Ná die evaluasie van die beskikbare bewyse, het die komitee bevind mnr. Du Toit se permanente skorsing is ‘n gepaste sanksie vir die oortreding, soos bevind deur die onafhanklike sentrale dissiplinêre komitee (SDK) van die US.

Ná ‘n voorval by Huis Marais op 15 Mei 2022, is mnr. Du Toit se dissiplinêre verhoor op 23 Junie 2022 afgesluit. Die onafhanklike SDK het mnr. Du Toit op 21 Julie 2022 skuldig bevind aan die oortreding van klousules 3.1, 9.1, 9.3, 13.1 en 13.2 van die US se Dissiplinêre Kode vir Studente. Hy is ook skuldig daaraan skuldig bevind dat hy die Aangepaste Koshuisreël in sake klousule 7 van die Kode oortree het.

Hierdie bevindings het die SDK genoop om tot die gevolgtrekking te kom dat daar geen alternatief was as om mnr. Du Toit onmiddellik uit die universiteit te skors nie. Hy het die reg tot appèl teen die SDK se bevindings of die sanksie gehad, wat hy uitgeoefen het.

Daar is ook met kriminele klagte in verband met die voorval deurgegaan. Hierdie regsprosesse is nie binne die jurisdiksie of beheer van die US nie, maar die universiteit sal sy volle samewerking gee. Die Nasionale Vervolgensgesag (NVG) het bevestig dat hulle mnr. Du Toit vir kriminele saakbeskadiging en crimen injuria gaan ondersoek en vervolg. Die US sal ook in hierdie proses sy volle samewerking gee in ooreenstemming met sy verantwoordelikheid ter ondersteuning van die Grondwet van Suid-Afrika.

Prof. Deresh Ramjugernath, die US se Viserektor: Leer en Onderrig, het in kommentaar op die uitslag beklemtoon dat die DAK, net soos die SDK, onafhanklik van die universiteitsbestuur funksioneer in dissiplinêre sake wat dit aanhoor en in die sanksies wat dit oplê.

Hy het bygevoeg dat daar regdeur die proses volgens regsvoorskrifte opgetree is, insluitende gedetailleerde ondersoeke wat gedoen is. Die universiteit en die onafhanklike, objektief saamgestelde komitee het in al hierdie verrigtinge die US se Dissiplinêre Kode vir Studente gevolg. “Die Universiteit het die saak in ‘n baie ernstige lig beskou, maar het in die belang van regverdigheid en ‘n regverdige uitkoms die reg tot appèl ondersteun,” het hy bygevoeg.

Die reaksies en emosies wat die voorval by Huis Marais ontlok het, soos die Khampepe-kommissie ook in sy verslag oorweeg en weerspieël het, het vir die bestuur van die US benadruk dat die geleefde ervarings van baie studente en personeellede erken en aangespreek moet word. Die US verbind hom weer eens onvoorwaardelik tot die ideaal van ‘n inklusiewe universiteit van wêreldgehalte in en vir Afrika.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel