Guinness World Records het op 31 Oktober gepubliseer dat Funerex Africa se sombere stoet van lykswaens ‘n wêreldrekord gebreek het en tans die nuwe wêreldrekordhouers is.
Hierdie spesiale parade het op 17 Maart 2022 by die Kyalami Grand Prix-baan in Midrand, plaasgevind.
Altesaam 122 lykswaens het bymekaargekom en in ‘n aaneenlopende, bewegende stoet die voorgestelde afstand van ten minste 3.2 km afgelê. Die vorige rekord is deur Nederland in 2012 met 107 lykswaens opgestel.
Alhoewel Funerex beoog het dat 137 lykswaens moes deelneem, het slegs 123 deelgeneem waarvan een weens meganiese probleme onttrek het.
Die samekoms het ten doel gehad om ‘n positiewe lig op die industrie te plaas na die effek wat Covid-19 gehad het. Dit was op die ou end nie nét ‘n sombere geleentheid nie.
Funerex Africa is ‘n “handelsekspo en motorervaring vir begrafnisondernemers.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



