Drie in hegtenis na hulle glo polisie aanrand

Deel hierdie storie / Share this story

Drie mans is in hegtenis geneem en word aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer na hulle glo ’n polisiebeampte in die gesig geslaan het.

Xolani Fihla, woordvoerder van die Johannesburgse Metro-polisiedepartement (JMPD) het gesê die drama het Sondagoggend begin terwyl twee beamptes in ‘n privaat voertuig werk toe gery het.

“Die twee JMPD-beamptes het by ‘n rooi verkeerslig by Heidelbergweg en Van Wyk Louwweg in Elandspark langs ‘n wit Volkswagen Amarok-enkelkajuitbakkie stilgehou. Die manlike bestuurder en twee manlike passasiers van die bakkie het hulle op ‘n neerhalende wyse begin beledig en rassistiese beledigings geskree. Die beamptes het hulle geïgnoreer en toe die verkeerslig groen word, het albei voertuie beweeg,” het Fihla gesê.

“Terwyl die voertuie beweeg het, het die passasiers van die bakkie leë alkoholbottels na die beampte se voertuig gegooi. Die beamptes het stilgehou en na die bakkie beweeg om uit te vind wat hul probleem is.”

Fihla het gesê toe die JMPD-beamptes die Amarok nader, is hulle deur die bestuurder en passasiers aangeval. “In die daaropvolgende geveg is ‘n beampte in die gesig geslaan. Terwyl hierdie fisiese konfrontasie aan die gang was, het lede van ‘n veiligheidspatrolliediens in die gebied die onderonsie aanskou en die beamptes te hulp gesnel. Hulle het daarin geslaag om twee mans vas te hou en in hegtenis te neem, aangesien een man daarin geslaag het om met die Amarok-bakkie te vlug,” het Fihla gesê.

“Die beamptes het rugsteun ontbied, en sodra die rugsteun opgedaag het, is die derde manlike verdagte opgespoor en by sy woonplek gearresteer.”

Die drie is by die Moffatview-SAPD aangehou en van die aanranding van polisiebeamptes aangekla.

Bronne: IOL, VN Explorer, Ghanamma

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Familie word ondersoek na gestremde seun sterf