‘n Vrou wat glo meer as 23 jaar gelede gehelp het om haar man se dood te versin, sal saam met haar man, wat nog lewe, in die hof verskyn.
’n Woordvoerder van die Valke, kapt. Lloyd Ramovha, sê die 67-jarige Robbie Smith, wat onder die alias Chris Boshoff bekend was, en sy vrou, Alice Abigail, sal Woensdag in die Knysna-landdroshof verskyn.
Hy sê die egpaar het in 1999 in die Benoni-omgewing gewoon en Smith se dood nagemaak deur die indruk te skep dat hy in ‘n motorongeluk in Vosloorus gesterf het.
Ramovha sê ’n versekeringseis, wat tot ’n uitbetaling van net meer as R1,7 miljoen gelei het, is by Old Mutual geregistreer.
Hy sê toe die egpaar die geld ontvang het, het hulle stilweg Gauteng verlaat om na KwaZulu-Natal te gaan, maar hulle het hulle uiteindelik in Knysna op die Tuinroete gevestig.
Ramovha sê Old Mutual is in Oktober 2020 laat weet oor die moontlikheid dat Smith nog leef en ’n bedrogsaak is by die Valke aanhangig gemaak.
Hy sê die span het onvermoeid gewerk om die egpaar in ‘n skuilplek in Knysna, waar hulle Dinsdag in hegtenis geneem is, op te spoor. Die polisie het ’n hofbevel bekom en hul blyplek deursoek, waar twee ongelisensieerde vuurwapens ook ontdek is.
Smith/Boshoff is die eienaar van Knysna Motorherstelwerk terwyl sy vrou sy admin gedoen het.
Die egpaar sal na Gauteng verplaas word vir ‘n klag van bedrog, aangesien die misdaad daar gepleeg is.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



