Steve – oor die omstrede LGBTQIA+ MRK-saak

Deel hierdie storie / Share this story

Steve Hofmeyr sê die omstrede saak wat teen hom gemaak en voor die MRK gebring is, is tot 16 Februarie 2023 uitgestel.

Die MRK litigeer vir die groep LGBTQIA+ in die saak nadat Steve ‘n videoplasing gemaak het en dit binne dieselfde dag verwyder het.

Steve sê dat ander sake oor ‘n tydperk strek, maar dat hy binne nege dae beboet is vir die verwyderde plasing. Boonop was daar glo deur die MRK gesê: “As Hofmeyr mediasie wil hê, moet hy self daarvoor betaal.”

“My apologie was glo nie aanvaarbaar nie.”

Lees Steve se volledige plasing hier:

Die MRK-saak, waar die MRK namens ‘n LGBTQIA+ groep litigeer, is uitgestel tot 16 Februarie 2023. Ons kon nie ooreenkom oor mediasie nie. “As Hofmeyr mediasie wil hê, moet hy self daarvoor betaal”, was die MRK se posisie. Soos van dag een af, wag ek steeds dat die MRK sal vorentoe tree as welwillende bemiddelaar. Hulle weier egter. Dit is alleen die voorreg van Julius Malema – waar hulle vir maande lank konsulteer en opinies inwin oor rasegte haatspraak en dan nog in sy guns beslis! Hulle het my binne nege dae beboet vir ‘n plasing wat reeds op dag een verwyder is. Die grootste jammerte vir my, is dat ek dekades al mentors en vriende het wat trots LGBTQIA+ is, sonder die bloeddorstige toeëiening wat sommige uit dié groep nou demonstreer. Alhoewel ek na my harde uitspraak dadelik apologie aangeteken het, was dit nie omdat ek dink dat voormalige slagoffergroepe skielik onaantasbaar en feilloos is nie. Ek wou dadelik regstel dat my uitspraak in elk geval nie sin kon maak as dit letterlik gelees is nie. Ek wou ook niemand beledig nie. My saak en oortuiging is eenvoudig: as die mees ondenkbare eise uit die LGBTQIA+ groep al reeds toegestaan is (geslaglose sport, afdwingbare voornaamwoorde, fopdosser-vriendelike kleuterskole en Disney se seksualisering van karakters en diere vir kleutervermaak), vrees ek dat ander seksuele oriëntasies eerder vroeër as later aanvaar sal word. My apologie was glo nie aanvaarbaar nie. Die gay-gemeenskap in my geselskap het gelukkig nie so ‘n apologie nodig nie, want hulle stem geensins saam bogenoemde eise nie. Hulle het geen behoefte om die lofwaardigheid van vrouwees te krenk of om vroue te forseer om teen biologiese mans mee te ding in sport nie. My mentors in dié geval is oorwegend Douglas Murray, Dave Rubin, Blair White, Caitlyn Jenner, Milo Yiannopoulos en my vriende in dié gemeenskap is talloos.
Ek’s nie naïef nie. Hierdie is die tipe saak wat jy nie kan verloor nie, maar NOOIT mag wen nie.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.