‘n Man is dood en ses ander is beseer ná ‘n botsing tussen drie voertuie Woensdagoggend in Commissionerstraat in Germiston.
Toe ER24-paramedici kort voor 08:00 op die toneel aankom, het hulle ‘n bestuurder in een van die voertuig vasgekeer gevind. Hy het geen tekens van lewe getoon nie en is deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Ses ander mense het geringe tot matige beserings opgedoen. Hulle is op die toneel behandel voordat hulle deur ER24 en GPG na verskeie hospitale vervoer is vir verdere mediese sorg.
Die presiese omstandighede rondom die voorval is nie aan die paramedici bekend nie, maar plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoeke.



