‘n Man van Klerksdorp wie se meisie vermoor is, is nou die hoofverdagte in haar moordsaak. Quinn van den Bergh (36) word nou van die moord op sy eks-meisie, Barbara Groenewald (32), aangekla.
Volgens polisiewoordvoerder, lt.kol. Amanda Funani, sal Van den Bergh Dinsdag in die landroshof aansoek doen vir borg.
Die twee persone was ten tye van Groenewald se dood nie meer ‘n paartjie nie. Van den Bergh wou glo hê hulle moes weer hulle verhouding hervat, maar Groenewald wou volgens berigte nie weer versoen nie. Die paartjie was glo verloof voor hulle uitgemaak het.
Van den Berg het na bewering vir Groenewald op 22 Oktober in haar huis in Klerksdorp met ‘n mes tydens ‘n rusie doodgesteek. Van den Bergh het na die rusie glo Groenewald se huis aan die brand gesteek om moontlik van bewyse ontslae te raak.
Nadat die brandweer ontbied is, is Groenewald se verkoolde liggaam in haar huis gevind. Volgens verklarings van die polisie was Van den Bergh glo in trane op die toneel en het skuld beken.
Van den Bergh het twee dogters.
Groenewald is op 27 Oktober begrawe en was die enigste kind.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



