Drie seuns is Sondagaand in die Strand buite Kaapstad geskiet. Een van die seuns is 11 jaar oud, nog een is 14 jaar terwyl die derde seun se ouderdom onbekend is. Hulle het almal ernstige tot kritieke skietwonde opgedoen.
“ER24-paramedici is om 19:10 na die Strand-brandweer ontbied waar twee van die seuns afgelaai is,” sê Ross Campbell, ER24-woordvoerder.
’n 11-jarige seun is kritiek deur ’n geweerskoot in die buik gewond. Hy is van gevorderde lewensondersteunende intervensies voorsien en na ‘n hospitaal vir verdere sorg vervoer.
Daar is gevind dat ’n 14-jarige seun, wat ernstig beseer is, ook ’n skietwond in die buik opgedoen het. Hy is behandel en deur ’n ander private diens na ‘n hospitaal vir verdere sorg vervoer. ’n Derde seun, van ’n onbekende ouderdom, wat ook ’n kritieke skietwond opgedoen het, is na privaat hospitaal geneem. Albei ambulanse is deur die metropolisie begelei.
Die besonderhede rondom hierdie voorval is onbekend aan die ER24-nooddiens, maar die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) was op die toneel vir verdere ondersoek.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



