Bejaarde reeds ses maande vermis, familie dood van kommer

Deel hierdie storie / Share this story

Die familie van die 68-jarige Jan Grober is dood van bekommernis na hy op 2 Mei reeds in Vanderbijlpark vermis geraak het en steeds nie opgespoor is nie.

Trudie Beyleveld, Grobler se suster, sê aan FiND iT dat dit op 2 November reeds ses maande was sedert sy verdwyning. Grobler is laas by die Busy Bee Hospice in Vanderbijlpark gesien. Trudie is eers op 4 Mei van sy verdwyning in kennis gestel.

“Hy het al in die verlede oor mure gespring en ons het gedink hy het moontlik weggeloop en sal net weer na die hospice terugkeer. Hy kom gewoonlik na my of my sussie toe,” sê Trudie.

Die gesin het sedertdien onverpoosd na Grobler gesoek, sonder sukses. “Ons was al drie of vier keer in Parys as mense ons bel en sê hulle het hom daar gesien.”

Trudie sê Grobler is as vermis aangemeld by die polisie.

Grobler het ‘n baadjie met wit en grys strepe, ‘n grys sweetpakbroek en wit tekkies aangehad toe hy verdwyn het. “Ons vermoed dat hy dalk tekens van demensie toon. Hy is nie gediagnoseer nie, maar telkemale as hy by my ma kom kuier het, was hy ‘n bietjie deurmekaar. En ons vermoed dat hy deurmekaar geraak het en dis hoe hy weg is.”

Daar is nou ‘n beloning uitgereik vir enigiemand met inligting oor waar Grobler moontlik kan wees.

Enigiemand met inligting kan die polisie by 016 910 9000 skakel, of by 083 500 8228 met die Pink Ladies in kontak kom.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel