Albie Schutte (19), die seun wat saam met die twee sussies van Jan Kempdorp in ‘n ongeluk was, is steeds in ‘n kritieke toestand.
Volgens ‘n inskrywing op Facebook gaan dit nie goed met Albie nie en word daar om 20:00 vanaand (Sondagaand) ‘n gebedsketting vir hom gehou.
Albie is op die oomblik in die LenMed-hopsitaal in Kimberley waar hy aan masjiene gekoppel is. Hy het swelling op die brein en sy bo- en bekkenbeen is gebreek.
Janke Coetzer (19), wat verlede jaar in Diamantveld was, en haar sussie, Lize Coetzer (16), wat vanjaar in gr.10 was, is in die ongeluk oorlede.
Albie en die Coetzer-sussies is niggies en neef.
Die 19-jarige Odene Swanepoel is ook in die ongeluk oorlede.

Janke en Odene was beide eerstejaarstudente aan die Noordwes Universiteit.
Martine Degenaar (19), ook ‘n student, het die ongeluk oorleef. Sy is in ‘n stabiele toestand nadat sy met gebreekte ribbes in die LenMed-hospitaal in Kimberley opgeneem is. Haar een long is raakgesteek en haar lewer is beskadig.

‘n Omstander op die toneel het aan FiND iT gesê die vyf jongmense, in ‘n Polo, was op pad na Hartswater toe ‘n Hyundai Tucson vanuit ‘n noordelike rigting gekom het. Die Tucson se bestuurder het glo oor die pad gery en die Polo het probeer uitswaai.
Die twee motors het mekaar toe reg van voor getref.
Al drie insittendes van die Tucson is oorlede. Die drie meisies in die Polo is oorlede, terwyl die oorlewende seun per ambulans en een meisie met ‘n Rocket-lugambulans na LenMed vervoer is.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



