Die Gauteng-polisie ondersoek die dood van ‘n Uber-passasier nadat ‘n man dood is.
Volgens kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder in Gauteng, het die man Woensdag ‘n Uber vanaf Milpark-hospitaal in Johannesburg na ‘n hotel in Rosebank bestel.
“Na bewering kon die man by sy aankoms by die hotel nie praat of beweeg nie. Die bestuurder van die Uber het hulp gesoek en die man is deur paramedici op die toneel dood verklaar.”
Die Milpark-hospitaal kon nie bevestig of die man ‘n pasiënt by die hospitaal was nie.
Die woordvoerder van die hospitaal, Meggan Saville, het gesê die bestuur van die hospitaal is nie deur die polisie of enige ander persoon van die voorval ingelig nie. Hulle is nie bewus van die voorval nie.
Die oorledene is nog nie geïdentifiseer nie.
Volgens die polisie was dit ‘n buitelander, maar dit is nog onbekend van watter land hy afkomstig was.
Tshepo Shawa, woordvoerder vir die departement van gesondheid in Gauteng, sê Gautengse nooddienste het omstreeks 14:55 ‘n oproep van die Uber-bestuurder ontvang en ‘n noodvoertuig is uitgestuur.”
Volgens Shawa het paramedici omstreeks 15:35 op die toneel aangekom. Die polisie was reeds daar.
Die persoon het geen sigbare beserings gehad nie en die oorsaak van sy dood is nog onbekend.
Mpho Sebelebele van Uber South Africa sê hulle ondersoek die voorval nadat die bestuurder dit gerapporteer het.
Volgens hom is die ondersoek nog aan die gang en sal meer besonderhede bekend gemaak word as hulle meer inligting bekom het.
‘n Geregtelike doodsondersoek is aangevra.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



