Praat saam: Moet ‘reeksmoordenaar’ ná 18 jaar vrygelaat word?

Deel hierdie storie / Share this story

Die gemeenskap van Mitchells Plain is verdeeld oor wannee die sogenaamde “stasiemoordenaar” Norman Afzal Simons, vrygelaat moet word.

Dit volg op oproepe van gevangenes en menseregte-organisasies wat van mening is dat hy sy tyd uitgedien het. Simons het sewe jaar oor van sy 35 jaar tronkstraf.

Hy is in 1994 in hegtenis geneem na 22 jong seuns se grafte gevind is.

Mitchells Plain-aktivis Michael Jacobs, wat met Radio 786 gepraat het, voer aan dat Simons op grond van omstandigheidsgetuienis skuldig bevind is, en dat hy met net een van die 22 sake verbind kon word.

Jacobs het ook opgemerk dat daar gebreke in die uitkenningsparade was waartydens ooggetuies hom nie onmiddellik uit die reeks gesigte kon kies nie.

Die Station Strangler-verwante sake het tussen 1984 en 1994 plaasgevind.

Jacobs voer aan dat die oorgang na demokrasie druk op die polisie en politiek geplaas het om die moordenaar te vind.

Hy sê dat die 21 onopgeloste sake die geaffekteerde families sonder afsluiting gelaat het. Jacobs wil hê dié sake moet heropen word.

Maar met die oproepe vir Simons se vrylating wat al hoe harder opklink, is dit onwaarskynlik dat mense wat deur daardie tydperk geleef het, hom weer in die samelewing sal toelaat.