Mark Pilgrim is aan die herstel nadat hy verlede week ‘n operasie ondergaan het om sy ineengestorte long “uit te sorteer”.
Die Suid-Afrikaanse radiogasheer het die naweek sy herstel met sy aanhangers op Instagram gedeel en laat weet hy is sterk genoeg vir besoeke van sy vrou, Adrienne Watkins.

“Ek raak opgewonde wanneer dit hospitaalbesoekure is. Dankie, babalief, dat jy altyd aan my sy is,” het hy Saterdag by ‘n selfie op Instagram geskryf.
‘n Tweede foto, wat Sondag gedeel is, wys hoe die egpaar vir die kamera glimlag.
“Hospitaal dag 4 … met my Adrienne aan my sy,” het hy in die onderskrif geskryf.

“Eendag, terwyl ons aan skemerkelkies op die strand teug, met ons tone in die sand en die dogters wat op die agtergrond lag, sal ons terugkyk na die afgelope maande en sê dat dit ‘n helse reis was … en ons het deur dit gekom.”
Pilgrim is in Maart met stadium 4-longkanker gediagnoseer. Hy het die nuus in Junie bekendgemaak na die kanker na sy femur, die basis van sy ruggraat en limfknoppe versprei het.
Die 53-jarige het sedertdien sy gesondheidsreis in die openbaar op sosiale media en in ‘n vlog op YouTube gedeel en het voortgegaan om by die Joburg-radiostasie Hot 102.7FM te werk toe hy nog goed genoeg gevoel het om dit te doen.
Pilgrim het vroeër Maandag hulde gebring aan sy voormalige kollega, Jeremy Mansfield, wat dood is nadat hy met terminale lewerkanker gesukkel het.
“Die radiobedryf is ‘n familie. Vandag sê ons totsiens aan een van ons eie. Altyd onthou. Totsiens groot ou. RIP Jeremy,” het hy langs ‘n foto van Mansfield getwiet





