Kleuter vermis ná onbekende persoon haar glo vat

Deel hierdie storie / Share this story

Motheo Rashilo, een jaar en nege maande oud, van die Malatane-dorpie in Ga-Seloane buite Lebowakgomo, word vermis.

Die kleuter is na bewering op Vrydag 28 Oktober 2022 omstreeks 09:00 die laaste keer in Malatane deur haar ma gesien.

Die polisie in Lebowakgomo ondersoek ‘n saak van ‘n vermiste kleuter. Volgens die polisie het die ma haar dogtertjie by haar vriendin se ma se plek afgelaai om die betrokke dag na haar om te sien. Die ma was in Lebowakgomo.

Sy het op pad terug die vriendin gebel en is toe meegedeel dat haar dogtertjie nêrens te vinde is nie.

‘n Saak van ‘n vermiste persoon is geopen en alle rolspelers is ondervra. Dit het aan die lig gekom dat die dogtertjie glo deur ‘n onbekende persoon gevat is.

Die kind het ‘n wit-en-geel kortbroek, pienk skoene, pienk T-hemp met ‘n grys trui aangehad.

Enigiemand met inligting wat die polisie kan help om die vermiste kleuter op te spoor, kan die ondersoekbeampte lt.kol. Nyamanyawo Thomas Baloyi by 082 565 8234 of Crime Stop by 08600 10111 kontak of die naaste polisiestasie besoek. Gebruik die MySAPSApp om vir anonieme wenke.