VK-jagklub in die moeilikheid oor opveil van trofeejag-safari in Suid-Afrika

Deel hierdie storie / Share this story

’n Jakkalsjagklub in die VK is deur diereregtegroepe gekritiseer nadat dit ’n trofeejag-safari in Suid-Afrika opgeveil het.

Die Avon Vale Hunt, wat naby Chippenham gesetel is, word beskou as een van die mees eksklusiewe klubs in die land met miljoenêrs as lede en ‘n jaarlikse ledegeld van £1 500.

Op 1 Oktober het Britse media berig lede van die jagklub, wat £90 per kop betaal het, het die geleentheid gehad om te bie op ‘n alles-betaalde jagsafari na Suid-Afrika.

Die wenner van die bod het die geleentheid gekry om ‘n springbok, ‘n gemsbok, ‘n rooibok en ‘n vlakvark dood te skiet.

Die prys het vier nagte in ‘n lodge ingesluit, asook die dienste van ‘n professionele jagter en spoorsnyers. Gewere, ammunisie, etes en drinkgoed is ook ingesluit. Die organiseerders het geweier om te sê hoeveel hulle uit die veiling gemaak het, of wie dit gewen het, alhoewel daar geskat is dat die prys waarskynlik sowat £5 000 werd was.

Die Avon Vale Hunt is al lank in die visier van diereregte-organisasies, wat daarop aandring dat jakkalsjag in die VK verbied word.

Daar is organisasies op Facebook wat daaraan toegewy is om die Avon Vale-jagters te keer om jakkalse te jag. Die Facebook-groep wat die Avon Vale Hunt blootstel, vertel mense hoe om ‘n jakkalsjag aan te meld en te help stop as hulle toevallig op een afkom.

Die trofeejag in Suid-Afrika het vir die klub meer kritiek op die hals gehaal. Die veiling vind het plaasgevind op ‘n tydstip dat daar wêreldwye teenstand teen trofeejag is.

Selfs die nuwe Britse premier, Rishi Sunak, het belowe om die uitvoer van lewende diere en trofeejag-invoer te verbied. Die diereregte-organisasie World Animal Protection het onlangs navorsing gepubliseer waarvoor hulle byna 11 000 mense genader het. Hulle het glo bevind 7 uit 10 Suid-Afrikaanse burgers voel hul land sal “‘n aantrekliker toeristebestemming wees as trofeejag verbied word”.

“In my gedagtes is dit duidelik dat Suid-Afrikaners nie van trofeejag hou nie, maar ons regering druk dit steeds. Daar is reeds ‘n groot stap om dit in die Verenigde Koninkryk te verbied. België het dit reeds gedoen,” sê Michelle Pickover, wat die uitvoerende direkteur van die diereregte-organisasie, die EMS Foundation, is.

Ondersteuners van trofeejag voer egter aan dat die sport inkomste inbring en oorbevolking help voorkom deur die verwydering van siek en ouer diere. Organisasies gekant teen trofeejag stem nie saam nie..

Bronne: IOL, Wales Online, VN Explorer

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Bekende trofeejagter in kop geskiet in vermeende huurmoord