Die liggaam van ‘n tiener (15) wat gister in Llandudno in die see verdwyn het, is ongeveer 1 km van die land gekry waar dit tussen dolfyne dryf.
Sy was gister saam met haar vriende by Llandudno toe sy na bewering van rotse gegly en deur seestrome meegesleur is.
Die eerste noodoproep oor die insident is om ongeveer 18:05 gemaak, waarna verskeie reddingseenhede reageer het.
NSRI Bakoven en Houtbaai het saam met die Stad Kaapstad se waterreddingsnetwerk wat lewensredders, NSRI-reddingswemmers, die SAPD, en vele ander agentskappe insluit, na die tiener begin soek.
Verskeie reddingsvaartuie het deel van die soektog gevorm, maar sy kon nie gister opgespoor word nie. Die soektog is vandag hervat.
Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, het in ‘n video gesê vir die soektog wat vandag deur die polisie se duikeenheid gelei is, is behoorlike land- en watersoektogte geloods waar hommeltuigkameras ook gebruik is.
‘n NSRI-eenheid het later rapporteer dat die liggaam van die vermiste tiener gevind is waar dit op die oppervlak van die water tussen dolfyne dryf.
Haar liggaam is na die land gebring en aan die polisie en patologiese dienste oorhandig. Haar familie en vriende is ingelig dat haar liggaam gekry is, maar hulle wens is in hierdie stadium dat hul privaatheid respekteer word.
FiND iT Nuus betoon simpatie aan familie en vriende in hierdie hartseer tyd.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



