‘n Gofundme-rekening is geopen vir Nicole, ‘n gekwalifiseerde gids, en haar seun Kayden wat op 19 Oktober deur ‘n kameelperd aangeval is.
Nicole is ernstig beseer en het gevorderde mediese hulp nodig. Haar 4-jarige seun, Kayden, is met kopbeserings in ‘n hospitaal opgeneem, terwyl haar 16 maande oue babadogter, Kaia, gesterf het.
Nicole se suster verduidelik op Gofundme dat Nicole, haar twee kinders en verloofde, Jason, saam met haar ouers maar in aparte wonings op ‘n wildsplaas bly.
Hulle is binne loopafstand van mekaar. Hulle was juis besig om te stap toe Nicole volgens haar suster twee kameelperde opgemerk het. Die reëls vir wanneer daar kontak met wilde diere is, is gevolg. ‘n Veilige afstand is gehandhaaf en hulle was reeds verby die eerste kameelperd toe die kameelperdkoei hulle onverwags bestorm en aanval.
Met slegs etlike meters van haar ouers se huis af, het hulle broer en ouers hul hulpkrete gehoor en gehardloop om die kameelperd te verjaag. Beide die kameelperde het weggestap.
Die familie is erg deur die voorval getraumatiseer, veral met die dood van klein Kaia. Tans vra hulle hulp om Nicole en Kayden op die lang pad na herstel te versorg.
Kayden het skedelbreuke opgedoen en word gemonitor. Skanderings is gedoen en hy is besig om goed te herstel. Die familie bedank almal vir die geskenke wat vir hom afgelewer word.
Nicole se lewer is geskeur, sy het ‘n platgevalde long, ‘n gebreekte kakebeen, arms, ribbes en enrstige spinale beserings.
Indien jy kan help om hierdie familie te help herstel na die rare en noodlottige voorval, gaan na die Gofundme profiel by https://www.gofundme.com/f/help-nicole-kayden-recover-from-giraffe-attack?utm_source=whatsApp&utm_medium=chat&utm_campaign=p_cp+share-sheet
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



