Eksklusief: Pitbull-slagoffer vra regverdigheid vir alle partye

Deel hierdie storie / Share this story

Gwen Truly Vokes, slagoffer van ‘n pitbull-aanval, het kontak met FiND iT Nuus gemaak en het die volgende te sê oor die herrie oor pitbulls wat tans aan die gang is.

Tydens ‘n aanval ongeveer drie jaar gelede het sy haar regterarm verloor en kon nie meer werk nie.

Suid-Afrika is tans verdeel in diegene wat lief is vir hul pitbull-troeteldierhonde en dan die res van die land wat staan ter ondersteuning vir die slagoffers wat in meeste gevalle nie meer vir hulself kan praat nie.

Die petisie deur die Sizwe Kupelo-stigting, wat vra dat hierdie diere nie as huishoudelik geklassifiseer moet word nie, het reeds meer as 40 000 stemme.

Gwen se versoek is dat regverdige gesprekvoering moet plaasvind oor die aanhou van enige tipe troeteldier, dat verantwoordelikheid toegepas moet word sodat eienaars behoorlik aanspreeklik gehou word en dat die hof slagoffers sal beskerm.

“Ek vra nie maak jou troeteldier dood nie. Want troeteldiere is soos mens se familie en jy maak nie familie dood nie.”

Gwen was die betrokke oggend in die huis toe sy hoor iets gaan in haar erf aan. ‘n Buurman wat by sy ouma bly se pitbull het die erf binnegekom en haar huiswerker aangeval.

“Ek het eers probeer om hom met water en die tuinslang van haar weg te kry, maar dit het nie gewerk nie. In my poging om haar te red, het die dier op my gedraai en my begin verskeur.”

Sy sê dit waardeur sy is, kan sy aan absoluut niemand beskryf nie. Sy as volwassene wat lewensvaardighede het om deur gevoelens te werk en dit te verwoord, dink aan klein kinders wat slagoffers is en nog glad nie oor sulke tipe vaardighede beskik nie.

Die hond het voorheen haar seun gebyt, maar omdat dit nie ernstig was nie, en sy met die ouma van die hond se eienaar gepraat het, het sy nie gedink so ‘n voorval sal homself herhaal nie.

“Omdat die man wie se dier dit was by sy ouma gebly het, was ‘n saak teen die ouma as eienaar van die huis oopgemaak. Die eienaar het weggekom met ‘n R8 000 boete of een jaar tronkstraf en ‘n opgeskorte vonnis.”

“Verbeel jou al die kostes wat ek met medies en berading moes aangaan vir myself en omdat my familie hoogs getraumatiseer was, om van die koste van die prostese nie eers te praat nie. En dan is daar die verlies van my inkomste.”

Selfs lisensies of permitte is vir haar klaar ‘n stap in die regte rigting.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.