Derde urineringsvoorval by Maties kommerwekkend

Deel hierdie storie / Share this story

Die bestuur van Eendrag-koshuis, een van Maties (Universiteit Stellenbosch) is bekommerd nadat hulle in kennis gestel is van nog ‘n voorval waarin ‘n erg besope student glo Saterdagoggend in die kamer van ‘n mede-student urineer het.

Prof. Deresh Ramjugernath, adjunk-visekanselier, sê die student wat geïdentifiseer is, is reeds Saterdag uit die koshuis geskors hangende die uitslag van ‘n ondersoek, waarna verdere stappe, asook moontlike skorsing uit die universiteit deur die rektor en visekanselier, prof. Wim de Villiers, oorweeg sal word.

Die bestuur van die universiteit het hul kommer oor die onverantwoordelike misbruik van alkohol op en om die kampus herhaal nadat die derde voorval plaasgevind het.

“Die universiteit moet weer beklemtoon dat menswaardigheid ononderhandelbaar by ons is en gerespekteer en gehandhaaf moet word. Wanneer sodanige waardigheid aangetas word, moet dit herstel word na aanleiding van die behoorlike proses soos voorsien binne die universiteit se dissiplinêre raamwerk.”

Die Universiteit Stellenbosch voel regsprosesse moet sy loop neem en dat behoorlike prosesse gevolg moet word om die regte van beide die geaffekteerde en geïmpliseerde studente te beskerm.

“Dit maak voorsiening vir verdedigbare en volhoubare uitkomste.”

Hersiene koshuisreëls is reeds ingestel om alkoholgebruik in koshuise streng te reguleer. Dit blyk nou asof strenger optrede nodig is en die universiteit sê hul sal voortgaan om alle beskikbare hulpbronne in te span om die “plaag” van onverantwoordelike alkoholverbruik deur sommiges te bekamp.

“Ons kan geen steen onaangeroer laat om hierdie verwoestende gedrag aan te spreek nie.”

Die geaffekteerde studente se wens is dat hul identiteite vertroulik sal bly. Die res van die studente sal op die naderende eksamens fokus.

Hierdie volg kort op die NVG se besluit om Theuns du Toit van die eerste insident wat in Mei gebeur het, te vervolg.

‘n Tweede voorval het in September plaasgevind.

Sien Maties se dissiplinêre kode hier.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.