Molly Russell (14) het in 2017 haar eie lewe geneem. ‘n Britse lykskouer blameer nou sosiale media vir haar selfdood.
Die lykskouer se geregtelike doodsondersoek het opnuut druk op die regering laat ontstaan om ‘n wetsontwerp oor aanlyn veiligheid in te stel.
“Sy het gesterf weens ’n daad van selfbeskadiging terwyl sy aan depressie en die negatiewe gevolge van aanlyn inhoud gely het,” het die Londense lykskouer, Andrew Walker, gesê.
Die lykskouer het sedertdien aan Facebook en Instagram se moedermaatskappy, Meta, sowel as ander sosialemedia-webwerwe geskryf en aanbeveel dat hulle aparte platforms vir kinders en volwassenes het.
Ná haar dood het Molly se pa, Ian Russell, ure lank deur haar sosiale media gelees en na antwoorde gesoek.
Hy het uiteindelik plasings van Pinterest oor depressie gekry. Russell het gesê hy was geskok oor die inhoud wat hy gevind het.
Die verskillende sosialemedia-maatskappye het tot 8 Desember om te reageer met besonderhede oor hoe hulle die kwessies wat geopper is, gaan aanspreek.
Tydens Molly se geregtelike doodsondersoek in September het Meta se Elizabeth Lagone gesê dit is veilig vir mense om hulself uit te druk. Sy het toegegee dat twee van die plasings wat in die hof gewys is, teen Instagram se beleid sou indruis. Sy het verder ‘n verskoning aan die familie aangebied.
Volgens Pinterest se Judson Hoffman was die platform nie veilig toe Molly dit gebruik het nie.
Intussen het ’n 11-jarige Amerikaanse meisie aan erge slaaploosheid en depressie begin ly en uiteindelik selfdood gepleeg nadat sy aan Snapchat en Instagram “verslaaf geraak” het.
As jy of iemand na aan jou selfdoodgedagtes het, kontak die Suicide Helpline by 0800 567 567.
Bronne: IOL, Daily Mail
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.
Lees ook: Hillary Gardee se familie dagvaar dept. van justisie vir nalatigheid



