Iranse skoolmeisie glo doodgeslaan na sy weier om pro-regime volkslied te sing

Deel hierdie storie / Share this story

Iranse beamptes is beskuldig daarvan dat hulle ‘n 16-jarige meisie doodgeslaan het omdat sy geweier het om ‘n pro-regime volkslied te sing.

Asra Panahi (16) is dood na ‘n klopjag by Shahed Girls High toe veiligheidsmagte glo geëis het dat die leerlinge ‘n lied sing ter ere van die opperleier Ayatollah Ali Khamenei.

Toe ‘n groep meisies weier, het die owerhede hulle geslaan. Hulle is later in ‘n hospitaal opgeneem, volgens die Coordinating Council of Iranian Teachers’ Trade Associations. Panahi het later aan haar beserings beswyk.

Iranse owerhede het verantwoordelikheid vir Panahi se dood ontken. Haar oom het op die staatstelevisie verskyn en beweer dat sy dood is aan ‘n hartkwaal.

Klopjagte word nou gereeld uitgevoer op skole waartydens beamptes klaskamers binnedring, traangas afskiet en kinders arresteer.

Vroeër die maand is sekuriteitsmagte daarvan beskuldig dat hulle Sarina Esmailzadeh (16) doodgeslaan het, maar die regering het gesê sy het selfdood gepleeg deur van haar buurman se dak af te spring.

Nika Shakarami (16) is dood op ‘n soortgelyke wyse. Die vermoede is dat sy doodgeslaan is, maar die regering sê sy het van ‘n dak afgeval.

Volgens menseregtegroepe is meer as 200 mense reeds dood in die optogte ná die dood van Mahsa Amini (22) in polisieaanhouding.

Bronne: Daily Mail, Metro

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Kommer oor Iranse atleet Elnaz Rekabi wat glo verdwyn na sy sonder hijab deelneem in Seoul