Ontsnapte Oos-Kaap-gevangene deur vragmotor in Vrystaat getref

Deel hierdie storie / Share this story

Een van die sewe gevangenes wat in die Oos-Kaap ontsnap het, is deur ‘n trok raakgery in die Vrystaat.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van korrektiewe dienste, het Dinsdagaand bevestig dat gevangene Bennet Kwarrie, ‘n Zimbabwiër, deur die polisie in die Vrystaat aangekeer is nadat ‘n vragmotor hom getref het ure nadat hy en ses ander gevangenes Dinsdgoggend by die Grahamstad- korrektiewe fasiliteit in Makhanda, Oos-Kaap uitgebreek het.

“Ons kan bevestig dat hy in ‘n stabiele toestand is in ‘n gesondheidsfasiliteit in die Vrystaat waar hy onder streng polisiebewaking is. Die inligting wat ek het, wys dat ‘n vragmotor hom in die Vrystaat getref het terwyl hy nog op die vlug was. Hy sal na ’n ander hospitaal in die Oos-Kaap oorgeplaas word voordat hy teruggestuur word na die gevangenis toe,” het Nxumalo gesê.

Die departement en polisie het Dinsdag ‘n soektog van stapel gestuur na sewe gevangenes wat die venstertralies gesny het om uit die Makhanda-gevangenis te ontsnap.

Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, AO Majola Nkohli, het gesê die aangehoudenes het deur ‘n tronkvenster ontsnap.

“Daar word beweer dat die beampte op Dinsdag 18 Oktober 2022 omstreeks 04:00 vir bystanddiens opgedaag het om die gevangenis te besoek toe sy ligte sien wat in een van die eenhede aan was. Daar is ontdek dat sewe gevangenes deur ‘n venster ontsnap het. Die omstandighede rondom die voorval vorm deel van die ondersoek,” het Nkohli gesê.

Provinsiale polisiekommissaris lt.-genl. Nomthetheleli Mene het ‘n 72-uur-aktiveringsplan na aanleiding van die voorval geïmplementeer.

Die polisie het ’n saak van ontsnapping uit wettige aanhouding geopen vir verdere ondersoek.

Die ontsnapte gevangenes is Luvuyo September, ‘n Suid-Afrikaanse burger wat vir moord, poging tot moord, ontvoering en roof aangehou is; Kwarrie, ‘n Zimbabwiese burger wat vir huisbraak, diefstal en poging tot moord aangehou is; Simba Masinga en Trymore Chauke, albei Zimbabwiese burgers, wat in die gevangenis is vir renosterstropery.

Nhamo Muyambo, ook ‘n Zimbabwiese burger, en sy landgenote Abraham Moyane en Francis Chitiyo was ook agter tralies vir renosterstropery.

Bronne: Sowetan LIVE, Scoopnest

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Kommer oor Iranse atleet Elnaz Rekabi wat glo verdwyn na sy sonder hijab deelneem in Seoul