Solidariteit verwelkom die aankondiging dat die gewraakte memorandum waarin Dis-Chem die aanstelling en bevordering van wit mense verbied, teruggetrek is. Solidariteit sê egter hy gaan seker maak dat dit nie net die memo is wat onttrek is nie, maar die beleid ook.
Dit volg nadat Solidariteit vroeër vandag ʼn prokureursbrief op Dis-Chem beteken het. Daarin gee Solidariteit Dis-Chem tot Vrydag om die moratorium op wit mense terug te trek. Indien dit nie gebeur nie, sal Solidariteit voortgaan met regstappe. Volgens Solidariteit is Dis-Chem se verbod op die aanstelling en bevordering van wit mense ʼn oortreding van die Wet op Gelyke Indiensneming.
“Ons verwelkom die feit dat die memorandum teruggetrek is, maar betreur dit dat so ʼn memorandum enigsins bestaan het. Ons gaan egter seker maak dat dit nie net die memorandum is wat teruggetrek is nie, maar ook die beleid. Indien Dis-Chem voortgaan met die beleid om ʼn moratorium op die aanstelling van wit mense te plaas, sal ons voortgaan met die hofsaak,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



