Bokgabo Poo (4), van Wattville, is Maandag 10 Oktober 2022 deur haar familie as vermis aangegee. Haar been, en later die res van haar liggaam. is die volgende dag in en om ‘n erf van ‘n huis in Tamboville, gevind.
Lt.kol. Mavela Masondo, provinsiale woordvoerder in Gauteng, sê die polisie en gemeenskap het saam gesoek na die man saam met wie sy laaste gesien was. Op die betrokke Dinsdag is die been van ‘n kind in ‘n vlak graf binne die erf van ‘n huis gekry. Later, dieselfde middag, is ‘n verminkte liggaam van ‘n kind, ‘n paar meter weg van dieselfde huis ontdek.
Bokgabo het na bewering weggeraak toe sy saam met ‘n maat in ‘n park in Wattville, Benoni, gespeel het.
‘n Moorddossier is geregistreer en ‘n span bestaande uit gesoute polisiebeamptes van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, forensiese deskundiges, die eenheid vir okkultiese misdade en plaaslike speurers is saamgestel om die saak as prioriteit te ondersoek.
Op Vrydag 14 Oktober 2022 is ‘n verdagte (30) in Boksburg-Noord gearresteer en aangekla vir Bokgabo se ontvoering en moord.
Alhoewel ‘n liggaam gekry en ‘n arrestasie gemaak is, het Bokgabo se ouers steeds gehoop dat sy iewers gekry sou word. Haar ouers het die liggaam Saterdag as dié van hul vermiste dogter uitgeken.
Die verdagte verskyn na verwagting vandag in die Benoni-landdroshof.
Lt.genl. Elias Mawela, die provinsiale polisiekommissaris van Gauteng, het die polisie en gemeenskapslede geloof vir hul onverpoosde samewerking om na die vermiste kind te soek, asook die insamel van bewyse wat gelei het tot die arrestasie van die verdagte.
Die provinsiale kommissaris betuig medelye met die ouers en die familie van Bokgabo Poo.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



