Polisie jag verdagte(s) wat 2-jarige kleuter glo verkrag en vermoor

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Tweejarige kind wat glo eers verkrag en toe vermoor is se liggaam is gister om ongeveer 13:00 in die bosse naby Nwamitwa, Letsitele, Tzaneen, Limpopo gevind.

Brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die kind het na bewering Woensdag vermis geraak terwyl sy by haar ma se kêrel gekuier het. Die ma het glo om ongeveer 12:00 ‘n kruiwa by ‘n buurman geleen en na ‘n nabygeleë rivier toe gegaan om water te gaan haal terwyl die kleuter alleen tuis gelaat was. Met haar terugkoms was die kind nie meer daar nie. Sy was bekommerd en het die polisie gebel.

“’n Gesamentlike soektog waarby lede van die Suid-Afrikaanse polisiediens se soek-en-reddingseenheid, die K9-eenheid, nooddienspersoneel en plaaslike polisie, bygestaan deur gemeenskapslede, betrokke was, is onmiddellik uitgevoer. Ongelukkig is die dogtertjie die volgende dag in die bosse gevind, verkrag en vermoor.”

Die polisie ondersoek sake van verkragting en moord.

Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale kommissaris van polisie in Limpopo, het skok en afsku oor hierdie sinnelose voorval uitgespreek en lede van die gemeenskap versoek om die polisie met inligting by te staan sodat geregtigheid kan seëvier.

Enigiemand met inligting wat kan help om die verdagte(s) vas te trek, moet die ondersoekbeampte sers. Isaac Raseala kontak by 076 618 0899 of die Stop Misdaadnommer by 8600 10111, deur die naaste polisiestasie te kontak of gebruik te maak van die MySAPSApp.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel