Petra Oosthuizen en haar 16-jarige seun het nooit gedink toe haar man Hennie op 9 Desember 2016 as plaasbestuurder op Onderplaas in die Groblershoop-distrik vermoor is, hulle na 70 maande hulp by die media sal moet vra om geld wat hulle toekom van die departement van arbeid te probeer kry nie.
“Op betaaldag vroeg in Desember 2016 was die plaaseienaar in die hospitaal. My man het geld uit sy eie rekening getrek om die plaaswerkers te betaal. Uit die aard van die saak was vleisrantsoene, wat hulle as ‘n reël saam met hul lone ontvang, nie uitgedeel nie, maar die plaasbestuurder sou die Saterdag kom en dit uitdeel en sommer dan oor Desember-verlof ensovoorts met almal praat.
Die werkers was tevrede, behalwe Bigboy Phiri van Zimbabwe. Hy het probleme veroorsaak, waarna Hennie vir hom gesê het om na sy kamer te gaan en af te koel. My man het omgedraai en verder gewerk. Bigboy het sonder dat Hennie dit kon sien uit sy kamer gekom en Hennie met ‘n mes in die rug begin steek.”
Dit is tot hier wat ‘n ontstelde Petra aan FiND iT Nuus kan vertel.
As Hennie se weduwee het sy ‘n eis by die departement van arbeid ingedien. Maar nou, 70 maande verder, het sy nog geen noemenswaardige hulp of enige uitbetaling om hulle by te staan, gekry nie.
Petra het fisies lyste vol oproepe gemaak en daar is nog geen lig aan die einde van hul pad om gehelp te word nie.
Daar is wel onlangs gespog dat daar vir die eerste keer sedert 2016 tot 16:00 een middag aan die eis gewerk is, maar nou wag die Noord-Kaap weer vir die departement van arbeid se hoofkantoor in Pretoria om verder te help en “sy moet tog net asseblief ‘n kansie gee.”
Petra het haar elke keer teen nog ‘n nommer en nog ‘n persoon in nog ‘n kantoor vasgeloop in ‘n oneindige sirkel van sukkel.
“Die lys van verskonings is oneindig. Almal is of met verlof, met siekverlof, in ‘n vergadering of verwys my na nog ‘n persoon.”
FiND iT Nuus is in besit van name, boodskappe, oproepinligting en ander bewyse, selfs afskrifte van die oorspronklike eis om te wys hoe Petra sukkel om gehelp te word.
Vandag het ‘n werker van die departement eindelik na haar teruggekom en gesê dat sy by hul kantoor in Kimberley moet uitkom om ‘n eis te registreer.
“Dit is belaglik; ek het reeds ‘n registrasienommer vir my eis.”
“Indien ek en ongeveer 60 ander van ons wat saam op ‘n Whatsapp-groep is, vra waarom ons nie betaal word nie, word ons soos bedelaars behandel.”
FiND-iT Nuus het met Teboho Thejane, woordvoerder vir die departement van arbeid kontak gemaak, wat die navraag na die chief officer aangestuur het.
Razia Madiega van die departement sê dat hul aandag aan die klagte gee.
Petra Oosthuizen het vanoggend ‘n oproep van Madiega ontvang waarin sy sê dat 40% ongeskiktheidspensioen maandeliks aan haar oorbetaal word. Oosthuizen noem egter dat hulle welkom is om al haar bankstate na te gaan omdat sy nog nie een sent ontvang het nie. Sy het Madiega daarop gewys dat haar man nie 40% ongeskik is nie maar 100% omdat hy oorlede is.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



