“Dis baie hartseer om te sê, maar ons bly in ‘n samelewing waarin hoe jy lyk bitter belangrik is. As ek nou praat, luister mense eintlik. Ek hoef nie meer die snaakse een te wees wat eerste is met ‘n grappie nie. Ek is nie meer die fat funny friend nie.”
Só vertel die 33-jarige Tanya Laubscher, ‘n onderwyseres van Johannesburg, na sy 100 kg verloor het.
Laubscher vertel haar gewig het voor haar lewensveranderende chirurgie maar stelselmatig meer en meer geword. “Jy weet net in jou hart en in jou kop dat iets moet verander. Ek het al wat ‘n dieet is, probeer, want mens hoop en hou aan veg, want mens wil nie net opgee nie.”

Sy vertel sy het op ‘n punt gekom en besef dat dit wat sy doen, nie werk nie. “Toe ek in lockdown 157 kg geweeg het, het ek net besef dat as ek Covid-19 moes opdoen terwyl ek so groot is, ek dalk een van die mense sou wees wat dit nie maak nie. Dit het my bang gemaak.”
Vandag weeg sy 57 kg.

Laubscher het gereeld programme gekyk van mense wat bariatriese chirurgie kry. “Dit was maar altyd so agter in my kop as ‘n opsie.”
Sy vertel sy is baie dankbaar en bly dat sy by ‘n goeie span dokters uitgekom het wat toe saam met haar besluit het dat chirurgie die beste opsie vir haar is.





Sy praat met lof van haar span by die Zuid-Afrikaans-hospitaal in Pretoria wat haar ondersteun en haar deur die hele proses gehelp het.
Sy vertel van die proses wat sy vir twee maande moes deurgaan voor sy die chirurgie kon ondergaan “Dit behels ‘n klomp toetse voor die tyd. Dit hang maar af van hoe vinnig jy die toetse laat doen en hoe bereidwillig jy is om alles gedoen te kry.”
Bloedtoetse, X-strale van haar borskas, ‘n sonar van haar buik, ‘n gastroskopie, ‘n fiksheidstoets en ‘n sessie met ‘n sielkundige is wat Laubscher agter die rug moes kry voor die span vergader het om haar vir die chirurgie goed te keur.
Sy vertel baie mense sê nou vir haar dat sy bloot die gewig deur middel van die chirurgie afgeskud het en as sy dalk minder geëet het, sy dit daarsonder sou kon doen. “Ek het alles probeer. Chirurgie was my laaste opsie. Ek het intermittent fasting, banting, keto, die sop-dieet, die kool-dieet, noem dit, ek het dit probeer!”
Sy vertel haar leefstyl het egter ook drasties verander. Sy het begin aandag gee aan wat op kosetikette staan, sy het elke dag op ‘n fiets by haar huis geoefen en sy het genoeg water begin drink.
“Ek stap nou graag saam met my vriende en my hondjies die heuwels uit – iets wat ek nooit voorheen gedoen het nie en waarvoor ek nou so lief geraak het. Ek is nie meer angstig as ek na nuwe plekke toe moet gaan nie. Ek het angsaanvalle gehad omdat ek nie geweet het of ek tussen die tafels verby sou kon skuur nie!”

Sy lag en sê sy sweet ook nie meer oral waar sy gaan nie. “Ek kan by enige winkel inloop en iets kry om te dra. As ‘n groter vrou was daar maar net een winkel waar mens kon klere koop. En al die groter vrouens het dieselfde klere gedra!”
“Ek is nou baie meer sosiaal en ek kruip nie meer in my huis weg nie. Dis so ‘n groot pluspunt vir my vriendskappe en verhoudings.”
“My vriende en familie het my ook geweldig deur die hele proses ondersteun.”
Laubscher vertel sy beplan om hopelik voor die einde van die jaar die 10 kg se los vel wat sy aan haar lyf dra, te laat afsny.
Sy vertel sy is baie gelukkig met haar huidige gewig en dat sy 100% gesond is. “Die doel was nooit om so klein te wees nie, ek wou net gesond wees. Dit was ‘n groot verrassing vir my om uit te vind ek is nou in die regte gewigsklas vir my lengte en beenstruktuur.”
“Almal dra hulle struggles. Ek dra net nie meer myne aan my lyf nie en almal sien dit nie meer nie. Maar dis steeds in jou kop en in jou hart. Om dan jou kop, jou hart en jou lyf bymekaar te kry, is waar die moeilikheid inkom. Mens kan nie help om te wonder hoe dinge anders sou wees nie.”

“My boodskap aan mense daarbuite sal hierdie aanhaling van Maya Angelou wees:

“Daarmee bedoel ek: Moenie opgee op jouself nie, en moenie net oorleef nie. Baklei vir jouself. Veg vir die lewe wat jy verdien en wat jy werd is om te hê!”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



